On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Signature Deli op Douglas skitter in Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap

───   CASEY-LEE ANTHONY 10:42 Wed, 22 May 2024

 Signature Deli op Douglas skitter in Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap | News Article
Signature Deli se produkte, Foto verskaf

“Toe ek en my vrou daar is en ons hoor ons het ’n eerste plek, was ons eintlik maar geskok.”

Signature Deli op Douglas in die Noord-Kaap het drie pryse gewen met sy eerste deelname aan die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap. Die deli is nou maar twee jaar in bedryf, maar het die eerste plek in die kategorie volroomdrinkjogurt met geursel behaal.

“Die produk waarmee ons nou die eerste plek in die kompetisie gewen het, is nog nie eens ’n jaar oud nie,” sê Cyril van den Heever, ontwikkelingsbestuurder van suiwelprodukte.

Signature Deli is baie trots op sy produk wat gewen het. Foto: verskaf

Signature Deli het ook die derde plek behaal in die kategorie feta met speserye, en in die kategorie jogurt met speserye, vrugte of gegeur. “Dit was maar gemengde gevoelens,” sê Van der Heever. “Ek het maar ingeskryf om die kommentaar te kry van die beoordelaars.”

Net voor die prysuitdeling het die organiseerders vir Van den Heever laat weet dat hy die prysuitdeling moes bywoon, maar Cyril het bevraagteken of dit nodig gaan wees om al die pad na Kaapstad te ry terwyl hulle niks meer as ’n tweede plek verwag het nie.

Cyril van den Heever en sy werkers is trots op hul prestasies. Foto verskaf

“Toe ek en my vrou daar is en ons hoor ons het ’n eerste plek, was ons eintlik maar geskok, maar terselfdertyd dankbaar en verras. So, ja, dit was baie onverwags gewees.” Hy vertel hoe emosioneel hy en sy vrou was nadat hulle besef het dat hulle gewen het.

Nadat hulle navorsing gedoen het oor hoe goed hul produkte vaar en hoe goed dit vir hulle bemark word, het dit hulle aangespoor om vir die kompetisie in te skryf.


“Ons het navorsing gedoen oor die embleem van die kompetisie en gesien dit is die grootste kompetisie in Afrika.” Hulle het besluit om te kyk hoe vergelyk hulle met die ander deelnemers.

Vir eers beplan Signature Deli om dit wat hulle doen, te verbeter, maar hulle is van plan om eendag uit te brei. Hulle wil ook die standaard en gehalte handhaaf van die produkte wat hulle op die rakke plaas.

OFM Nuus/Casey-Lee Anthony dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.