Agriculture
Propvol kalender vir Vriende van Landbou se fondsinsameling─── 18:48 Thu, 23 May 2024
“Die groot doel is dat die gewone stadsjapie gaan weet waaroor landbou gaan.”
Vriende van Landbou, ’n liefdadigheidsorganisasie sonder winsbejag wat die landbousektor in Suid-Afrika ondersteun, se fondsinsamelingskalender is propvol interessante insiatiewe.
Die stigter Gerhard Kriel sê die organisasie word ook deur die Cheetah-rugbyspan ondersteun en van die projekte gaan by die Toyota-stadion in Bloemfontein plaasvind. Vanjaar word die geld gebruik vir brandvoorkoming en landelike veiligheid.
Eerste aan die beurt is die Borg ’n Mieliepit-projek waar die ontwikkeling van ’n mieliepit vandat dit in die grond geplant word totdat dit in die silo beland op sosiale media gevolg kan word.

Gerhard Kriel, Vriende van Landbou se stigter. Foto: OFM
Daar is ook The Battle of the Bakkie Brands waar almal met hulle bakkies kom deelneem in Pretoria and Bloemfontein. “Dis so ’n vier-by-vier-roete, agteruit ry, blinde drywer, ’n hele paar interessante uitdagings. Die wenner gaan lekker pryse ontvang.”
‘Ons het ’n 50-meter braai gebou’
Die Plaasjapie Dans en Langafstand Braai gaan beslis baie aandag kry. “Ons het ’n meter braai gebou en gaan in ses dorpe oor die land heen ’n marathon sokkie hou. Dit gaan sesuur die aand begin en die paartjie wat teen sesuur die oggend nog staande is, is die wenner.”
Verder gaan daar ook ’n Trekker-en-Trailer-toer vanaf volgende maand deur die land plaasvind. Tydens die 5 000 kilometer sal daar by 13 dorpe aangedoen en konserte gehou word.
In November is daar twee Vrinne Feeste in Pretoria en Bloemfontein. “Die groot doel is dat die gewone stadsjapie gaan weet waaroor landbou gaan.”
Kriel sê geld word ook ingesamel deur die verkope van ’n peuselhappiereeks vir die jongspan. “Daar is 30 Agri Buddies-produkte van klein sakkies met appelkooskonfyt, heuning en grondboontjiebotter tot langlewe melk, droë vrugte en neute, biltong, droëwors, beskuit en koffie. Als produkte wat jy op ’n plaasstoep sou geniet.”
Lees meer oor Vriende van Landbou en hul projekte.
OFM Agri dg
