Agriculture
NWK begin 2 000 km se grondpaaie skraap─── 14:00 Fri, 24 May 2024
"Ons ploeg graag terug in gemeenskappe waarbinne ons sake doen en waar die regering tekort skiet, poog ons om ’n verskil te maak."
NWK span vanjaar nie minder nie as ses stootskrapers in om sowat 2 000 km se grondpaaie van en na sy silokomplekse te skraap.
Dit is die derde jaar wat NWK hierdie projek onderneem. Dit volg nadat die maatskappy in 2021 ’n memorandum van verstandhouding met Noordwes se Departement van Openbare Werke, Paaie en Vervoer onderteken het, waarvolgens hy sy hulp aan die regering bied om die provinsie se grondpaaie meer begaanbaar te maak.
‘Nog twee is gekry om die tempo te versnel’
Daar was aanvanklik vier skrapers om die paaie te skraap, maar nog twee is gekry om die tempo te versnel en daar word nou fluks gevorder. Paaie in die omgewing van Coligny, Gerdau, Bodenstein, Boschpoort, Ottosdal, Sannieshof en Barberspan word geskraap.
Dié projek het op 22 April begin en die koste gaan na raming sowat R2 miljoen beloop. Die projek het egter later as verwag begin omdat die paaie baie droog was weens heelwat minder reën wat in NWK se bedieningsgebied geval het.
“Produsente beleef ’n uitdagende seisoen en ons wil hulle hiermee die versekering gee dat ons selfs in moeilike tye hul paaie gelyk maak,” sê Jaco du Rand, senior bestuurder van Graan.
“Die projek is uitdagend omdat die paaie op talle plekke feitlik oorgebou moet word. Dit noodsaak bykomende uitgawes. Ons is daarom baie dankbaar vir produsente wat ook inspring en help met die herstelproses. Dit stel ons in staat om vinniger te vorder en selfs meer kilometers te skraap.”

Theo Rabe, NWK se uitvoerende groephoof. Foto: NWK Arena
Boere begin nou in alle erns om graan te stroop en sal hul oeste met groter gemak na NWK se silokomplekse kan vervoer. Ook plaaswerkers en skoolkinders maak daagliks van hierdie paaie gebruik.
“Baie van Noordwes se paaie is in ’n haglike toestand,” sê Theo Rabe, NWK se uitvoerende groephoof. “Ons ploeg graag terug in gemeenskappe waarbinne ons sake doen en waar die regering tekort skiet, poog ons om ’n verskil te maak en klante se lewenskwaliteit te verbeter.”
Die projek sal na verwagting teen einde Junie afgehandel wees.
