Agriculture
Vrystaat Landbou is bekommerd oor hemp-megaprojek─── 11:50 Wed, 29 May 2024

“In die afgelope 12 jaar is daar R2,1 miljard aan 62 Agriparke-infrastuktuurprojekte bestee.”
Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, het sy kommer uitgespreek oor ’n hempprojek wat verlede week in Springfontein bekendgestel is. “Om ’n megahempprojek by die Agripark te begin is ’n mors van geld. Die hempprojek wat in 2017 in Winterton KwaZulu-Natal begin is, is nou ’n wit olifant.”
Volgens hom is daar nog nie genoeg navorsing gedoen om wetenskaplik te bewys dat hemp wel in die Suid-Vrystaat sal aard nie. Die wisselvallige klimaat is nie die ideale omgewing om hemp intensief te laat groei nie. Intensiewe besproeiingstelsels sal geïnstalleer moet word.
Armour wag nog vir navorsing en inligting om vas te stel hoe hierdie besluit geneem is deur Mxolisi Dukwana, premier van die Vrystaat.
Op die bekendstelling van die hempprojek op 20 Mei in Williamsville, Springfontein, is daar aan die gemeenskap gesê dat daar 24 000 werkgeleenthede geskep gaan word.
Dukwana het die gemeenskap ingelig oor die voordele van hemp en dat die projek ‘n bewys sal wees dat die regering toegewyd is om hierdie projek ’n sukses te maak. Dit sal ook ‘n voorspoedige toekoms vir die gemeenskap skep.
Daar is op die oomblik net ’n groot stoor opgerig,’n watertenk en ’n geplunderde sekuriteitsingang op die Springfontein Agripark se eiendom. Daar is veiligheidswagte wat die perseel 24 uur per dag op pas. In die afgelope 12 jaar is daar R2,1 miljard aan 62 Agriparke-infrastuktuurprojekte bestee.