On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Aktiniese Keratose in Suid-Afrika: ’n Toenemende gesondheidsbedreiging

───   ROBYN SCHUTTE 08:37 Mon, 03 Jun 2024

Aktiniese Keratose in Suid-Afrika: ’n Toenemende gesondheidsbedreiging | News Article
Die doeltreffendste manier is deur beskermende klere te dra, soos langmou-hemde en hoede, en deur ‘n breëspektrum sonskerm daagliks te gebruik. Foto: iStock

“Die gebruik van sonskerm kan jou vel beskerm en die risiko van velkanker verminder. Dit is min moeite en koste vir ’n groot gesondheidsvoordeel.”

In Suid-Afrika, waar blootstelling aan die son hoog is, is aktiniese keratose besonder algemeen. Hierdie veltoestand raak veral diegene wat baie tyd buite deurbring, soos boere en avonturiers.

Wat is Aktiniese Keratose?

“Aktiniese keratose (AK), eenvoudig gestel, is ’n area op son-blootgestelde vel waar die selle kankeragtig begin raak. Hulle is reeds abnormaal, maar het nog nie die volle definisie van kankerletsels bereik nie. Die risiko is dat hulle kan (en dikwels) ontwikkel tot ’n vorm van velkanker wat gevaarlik is,” verduidelik dr. Bradley Wagemaker, mediese direkteur by Lamelle Pharmaceuticals.

Wie loop die risiko?

“Mense wat baie tyd buite deurbring, soos boere en ander wat buite werk, loop ’n verhoogde risiko. Ultraviolet B-straling van die son is die primêre oorsaak van hierdie transformasie. Ligte vel, langtermyn sonblootstelling en ouderdom verhoog die totale dosis bestraling wat die vel ontvang en sodoende die risiko vir aktiniese keratose.”

Wat is die tekens van Aktiniese Keratose?

“Dit kom gewoonlik voor op sonblootgestelde areas van die vel, soos die gesig, nek, ore, hande en arms. Dit begin dikwels as ’n growwe kol wat gevoel, eerder as gesien kan word. Met tyd kan hierdie kolle groter en growwer word, en soms begin afskilfer. Dit is belangrik om enige growwe, ronde areas op jou vel deur ’n dokter te laat ondersoek.”


’n Voorbeeld van ’n growwe kol op die vel. Foto: Utah Valley Dermatology 

Hoe kan ons ons vel beskerm?

Die doeltreffendste manier is deur beskermende klere te dra, soos langmouhemde en hoede, en deur ’n breëspektrum sonskerm daagliks te gebruik. Selfs op bewolkte dae of in die winter is sonbestraling steeds aanwesig en kan dit skade aanrig. Dit is ook belangrik om daarop te let dat sonbeskerming steeds binne kajuite of bakkies gebruik moet word. “Glas beperk wel sekere sonstrale, maar nie almal nie. Bestraling wat deur glas en wolke gaan, kan die vel se immuunstelsel onderdruk, wat beteken dat beskadigde selle nie effektief deur die liggaam verwyder word nie. Daarom word daaglikse gebruik van sonskerm aanbeveel, omdat dit kan help om die risiko van aktiniese keratose aansienlik te verminder.”

Wanneer moet ek my dokter raadpleeg?

“As jy enige growwe, ronde areas op jou sonblootgestelde vel voel, is dit tyd om ’n dokter te spreek. Hierdie letsels kan in vroeë stadiums behandel word om te voorkom dat hulle in kankeragtige letsels verander. Die risiko is onvoorspelbaar, en daarom is vroeë behandeling belangrik.”

Dr. Wagemaker sluit af deur weer klem te plaas op die belangrikheid van die gebruik van sonbeskerming. “Dit is nie sissies wat sonskerm gebruik nie; dit gaan oor gesondheid. Die gebruik van sonskerm kan jou vel beskerm en die risiko van velkanker verminder. Dit is min moeite en koste vir ’n groot gesondheidsvoordeel. Gebruik sonskerm, dra beskermende klere, en wees waaksaam vir enige veranderinge aan jou vel. Dit kan jou lewe red.”

OFM Agri

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.