Agriculture
Hoop dat mielieoes steeds op surplus sal uitloop─── 05:00 Wed, 05 Jun 2024
“Mieliepryse sal waarskynlik vir ’n geruime tyd hoog bly as gevolg van potensieel verminderde voorrade later in die seisoen.”
Sou die geskatte mielieoes realiseer, sal dit steeds genoeg wees om in Suid-Afrika se vraag te voorsien asook genoeg vir uitvoere te laat.
Wandile Siholobo, landbousakekamer Agbiz hoofekonoom, meen as die jaarlikse mielieverbruik ongeveer twaalf miljoen ton is, sal daar steeds sowat ’n miljoen ton oorbly.
“Met dit gesê, sal mieliepryse waarskynlik vir ’n geruime tyd hoog bly as gevolg van potensieel verminderde voorrade later in die seisoen.”
Volgens onlangse syfers, wat deur die Oesskattingskomitee uitgereik is, staan Suid-Afrika se totale somergraan- en oliesadeproduksievoorspelling vir die 2023/24-seisoen op 15,9 miljoen ton, wat ’n geringe afname van 0,5% vanaf die vorige maand se projeksie en ’n beduidende 21%-daling vanaf die vorige seisoen se oes.
Mielies, ’n stapelgewas in Suid-Afrika, trek aandag in die verslag, met wit- en geelmielie-oeste wat op 6,4 miljoen ton (0,9% maand-tot-maand-afname) en 6,9 miljoen ton (0,3% maand-tot-maand-afname) beraam word. Hierdie aanpassings bring die totale mielieproduksieskatting op 13,3 miljoen ton te staan, wat ’n afname van 0,6% vanaf die vorige maand se voorspelling weerspieël.
Jaar-tot-jaar-vergelykings skets ’n ontnugterende prentjie, met witmielieproduksie wat met 25% gedaal het, en geelmielies ook 13% laer as die 2022/23-seisoen. Die geskatte oes van 13,3 miljoen ton dui op ’n afname van 19% teenoor die vorige seisoen, wat op aansienlike uitdagings in mielieproduksie dui.
“Ten spyte van die afname in produksie, bly daar versigtige optimisme oor die oes se potensiaal, alhoewel met onsekerhede oor kwaliteit. Sou hierdie projeksies realiseer, sal Suid-Afrika se mielieproduksie steeds aan die land se jaarlikse verbruiksbehoeftes voldoen, wat ’n surplus vir uitvoermarkte laat,” vertel Siholobo.
Beter mieliepryse word egter in die komende maande verwag as gevolg van potensiële verskerping van voorrade.
OFM Nuus mvh
