On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Groot afname in sojaboonoes

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 05 Jun 2024

Groot afname in sojaboonoes | News Article
Die ekonomiese impak van hierdie swak oes is geweldig. Sojabone het ’n belangrike rol begin speel in die westelike produksiegebiede as ’n alternatiewe gewas. Foto: Elzette Boucher-Kruger

“Die ekonomiese impak van hierdie swak oes is geweldig.”

Die jongste raming van Suid-Afrika se 2023/2024 sojaboonoes toon ’n afname van 36%, in vergelyking met die vorige jaar.

Die oes word op slegs 1,7 miljoen ton geskat, hoofsaaklik as gevolg van swak opbrengste in verskeie streke van die land.

Ryk Pretorius, voorsitter van die Sojaboon Werkgroep van Graan SA, verduidelik dat die hoofrede vir die swak oes die huidige El Niño-weerpatroon is. “El Niño is normaalweg vir ons baie sleg in terme van reënval, veral hoe meer wes ons gaan in die land.”

Die westelike dele van Suid-Afrika, soos die Vrystaat en Noordwes, is veral swaar getref. “Ek dink Noordwes veral het ’n 55% laer opbrengs as die vorige seisoen gehad en die Vrystaat ongeveer 50% laer opbrengste.”

Die ekonomiese impak van hierdie swak oes is geweldig. Sojabone het ’n belangrike rol begin speel in die westelike produksiegebiede as ’n alternatiewe gewas.

Pretorius verduidelik dat ’n afname van 55% in die sojaboonoes ’n groot effek op die plaaslike ekonomieë in hierdie gebiede sal hê. “Sojabone is ’n hoëwaardekommoditeit, en hierdie daling sal veral die westelike gebiede se plaaslike ekonomieë beïnvloed.”

‘Suid-Afrika sal weer sojaprodukte moet invoer’

In die afgelope paar jaar het Suid-Afrika se sojaboonproduksie so uitgebrei dat die land van ’n netto invoerder na ’n uitvoerder van soja en soja verwante produkte beweeg het. “Ons kon verlede jaar 597 000 ton sojabone uitvoer na verskillende dele van die wêreld,” sê Pretorius.

Maar met die huidige swak oes voorspel die Nasionale Landbou Bemarkingsraad dat Suid-Afrika weer sojaprodukte sal moet invoer om aan plaaslike behoeftes te voldoen.

“Ons gaan waarskynlik ’n redelike groot hoeveelheid sojameel en -olie moet invoer,” voeg hy by.

‘Die klimaat is een van daardie faktore wat jy in jou risikoprofiel moet inbou’

Boere staan voor groot uitdagings as gevolg van die swak oes en die veranderende klimaat. “Die klimaat is een van daardie faktore wat jy in jou risikoprofiel moet inbou, maar met ’n uitermatige jaar soos vanjaar, is daar min wat jy kan doen om dit te verhoed.”

Pretorius benadruk dat die finansiële instellings wat met landbouers werk, produkte en tegnieke het om boere te ondersteun in sulke moeilike tye. “Dit is jammer dat ons nie op ’n groter skaal ondersteuning van die regering kry nie, maar kommersiële banke en landbou instellings sal waarskynlik die meeste ondersteuning bied.”

Die 2023/2024 sojaboonoes is ’n ernstige herinnering aan die invloed van weerpatrone op landbou. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid vir ondersteuning en aanpassing in die sektor. “Die gebruik van tegnieke om risiko’s te bestuur, is noodsaaklik, en samewerking tussen boere, finansiële instellings, en die regering kan help om die impak van sulke rampe te verminder,” sluit Pretorius af.

OFM/Agriculture mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.