On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Jeug in Landbou: Hoe ’n skool liefde vir landbou kweek

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 11 Jun 2024

Jeug in Landbou: Hoe ’n skool liefde vir landbou kweek | News Article
"Hier boer die Wittebergers", lui 'n bord by die stuk grond tussen Bethlehem en Fouriesburg waar leerders aan Hoërskool Witteberg praktiese ondervinding opdoen. Foto verskaf

Landbouvakke maak “nuwe wêreld” oop vir leerders.

Cari van den Berg, die Landboubestuurspraktyk-onderwyseres aan die Hoërskool Witteberg op Bethlehem, is passievol oor landbou en die belangrikheid daarvan vir die jeug.

By Witteberg bied hulle vier landbouvakke aan wat leerders van gr. 8 tot 12 insluit. Die vakke is ontwerp om leerders bloot te stel aan verskillende aspekte van landbou en hulle voor te berei vir moontlike loopbane in die landbousektor.

Van den Berg vertel hulle begin by die jonger leerders in gr. 8 en 9 met Landboustudies. Hierdie vak is ’n inleiding tot die breë veld van landbou en dek verskeie onderwerpe, soos bestuur, ekonomie, dierkunde, plantkunde en landboubestuur. Dit bied ’n stewige grondslag vir die leerders om die basiese beginsels van landbou te verstaan.

In die senior grade (gr. 10, 11 en 12) het leerders die opsie om Landboubestuurspraktyk, Landbouwetenskap en Landboutegnologie te kies.

Van den Berg se vak, Landboubestuurspraktyk, is toegespits op die praktiese aspekte van landbou, insluitend ekonomie en die bestuur en hantering van diere.

Landbouwetenskap dek die biologiese aspekte van landbou, terwyl Landboutegnologie die tegniese en meganiese aspekte soos draadspan, sweiswerk en werk met enjins insluit.

Die belangrikheid van landbou vir die jeug

Met dié dat Junie Jeugmaand in Suid-Afrika is, beklemtoon Van den Berg die belangrikheid van blootstelling aan landbou vir die jeug. “Landbou is ’n wye vakafdeling. Ek voel as ’n kind met landbou grootword, kry hy klaar daardie praktiese ervaring in die lewe. 

“Baie kinders sit in my klas wat nie ’n idee het wat op ’n plaas aangaan nie, maar wanneer jy hulle hierdie bietjie leiding gee van wat op ’n plaas aangaan, maak dit vir hulle ’n nuwe wêreld oop.”

Sy meen landbou help leerders help verantwoordelikheid te leer en praktiese vaardighede op te doen wat nuttig is vir hul toekomstige beroep. En die belangstelling in landbouvakke is groot. “Ons lok baie kinders, nie net oor die vakke nie, maar omdat ons ook ’n tonnel op die skoolterrein het waar die kinders prakties kan werk.”

Van den Berg verduidelik verder dat die skool reëlings tref vir praktiese ondervinding waar die leerders die skoolterrein verlaat en dit wat hulle in die klas leer, fisies op ’n boer se plaas of by ’n boeredag kan toepas. 

“Die aantrekkingskrag is baie groot omdat ons hierdie vier vakke het en ons klasse is lekker vol. Ek sien baie uit na die toekoms van landbou vir Witteberg.”

Hier is ’n leerder besig tydens ’n praktiese sessie. Foto verskaf

Praktiese projekte en samewerking

Een van die praktiese projekte waaraan die leerders deelneem, is die mielieproewe tussen Bethlehem en Fouriesburg. “Ons het ’n paar maatskappye wat vir ons hierdie mielieproewe skenk, en dan plant hulle dit vir ons. 

“Wanneer ons dit stroop, vergelyk ons die opbrengste en deel van daardie wins kry ons dan nou.” Hierdie projek bied waardevolle praktiese ervaring vir die leerders en dra by tot die skool se landbouaktiwiteite.

Lesse uit die landbou

As ’n vrou in die landbou sê Van den Berg een van die belangrikste lesse wat sy geleer het, is om voortdurend haarself te bewys. “Jy moet heeltyd aanhou veg om jou punt te bewys en jy moet altyd (bereid) wees om te leer.” Sy beklemtoon ook die belangrikheid van aanpassing by die vinnige ontwikkeling in tegnologie om suksesvol te wees en om die kinders met die nodige kennis toe te rus.

Van den Berg se toewyding aan die jeug en landbou by Hoërskool Witteberg speel ’n sleutelrol in die voorbereiding van die volgende geslag op die uitdagings en geleenthede in die landbousektor.

OFM/Agriculture cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.