On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Eskom se voorgestelde kragtarief ‘gaan boere dwing tot ander opsies’

───   07:00 Wed, 12 Jun 2024

Eskom se voorgestelde kragtarief ‘gaan boere dwing tot ander opsies’ | News Article
Foto: Stock Vault

“Dit is geen wonder ál meer Suid-Afrikaners skakel oor na sonkrag nie.”

Die skrif is aan die muur: Die landboubedryf kan op sy knieë gedwing word en produsente sal hulle tot sonkragstelsels wend indien Eskom voortgaan met planne vir drastiese prysstygings.

OFM het reeds berig dat Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), gewaarsku het dat Eskom die landbousektor as kliënt gaan verloor.

Volgens sy jongste plan wil Eskom drasties meer ten opsigte van vaste koste hef. Tans is die gemiddelde rekening 30% vaste koste en 70% gekoppel aan werklike kraggebruik. Eskom wil nou ’n aansoek indien by Nersa wat die verhouding omdraai na ’n 70% vaste koste-komponent.

Boere stem heelhartig saam dat hierdie planne eenvoudig nie haalbaar is vir die landboubedryf nie. Niel Kruger van die plaas Schietfontein in die distrik Philippolis sê boere daar betaal reeds tot R9,40 per eenheid elektrisiteit, vergeleke met dorpenaars se R3,24. “Dit is geen wonder dat al hoe meer Suid-Afrikaners oorskakel na sonkrag nie.”

Eskom het in ’n kort mediaverklaring aan OFM gesê die voorlegging is nog nie gefinaliseer nie. “Die voorgestelde kleinhandelstariefplan sal teen einde Augustus aan Nersa voorgelê word, onderhewig aan die interne goedkeuring deur Eskom.”

Eskom het nie die navrae beantwoord oor die uitwerking op dié kragvoorsiener indien hulle die landboubedryf as kliënt verloor nie.

Kruger sê egter boere kan nie bly betaal nie. “Die eenheidskoste en lynheffings en die beskikbaarheid is baie hoog. As ’n mens dit alles bymekaar tel, kom jy by die eenheidprys van R9,40 uit. Dit is rof.”

Hy sê dit lyk ook nie asof dinge gou gaan verander nie, veral as n mens ’n verhoging van 62% in die kragtarief die afgelope drie jaar in ag neem. “Waar gaan dit eindig? Boere gaan eenvoudig nie anders kan as om ander planne te maak nie.”

Hy sê in die distrik Philippolis is hulle net veeboere. Hulle kan nêrens die kragtarief verhaal uit hulle verkope nie.

‘Eskom raak eenvoudig te duur’

Vir Kruger was daar geen ander uitweg as om sy plaas op ’n sonkragstelsel te sit nie. Volgens sy berekeninge gaan dit hom vyf jaar neem om die lening vir die sonkragstelsel af te betaal teen R1,50 per eenheid. “Eskom raak eenvoudig te duur. Ons kan dit nie meer bekostig nie.”

Hy is nie ’n dag spyt dat hy oorgeskuif het na sonkrag nie.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.