On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Ysige weer op pad

───   06:39 Fri, 05 Jul 2024

Ysige weer op pad | News Article
Sneeu wat in Junie by De Aar in die Noord-Kaap voorgekom het. Foto: Christiaan du Preez

Ysige toestande word voorspel vir dele van Sentraal-Suid-Afrika volgende week.

’n Reeks kouefronte sal na verwagting hierdie naweek oor die Kaap begin inbeweeg. Onafhanklike weerkenner Johan van den Berg waarsku dit beteken dat die koue ook binnekort na die binneland sal beweeg.

Hy’t in ’n onderhoud met die SAUK vertel dat temperature van so laag as -10°C volgende week in die Suid-Vrystaat kan voorkom. “Dis redelike gevaarlike toestande vir ons veeboere, veral ons kleinveeboere wat besig is om te skeer of as daar bokke of skape is wat lam. Boere moet maar versigtig wees en skuiling bied.”


Daar is ook ’n moontlikheid van sneeu, maar Van den Berg glo dat ysreën meer waarskynlik gaan wees. “Wat ook belangrik is in hierdie volgende tyd, veral meer na die noordelike gedeeltes voor hierdie koue fronte, is dat baie sterk winde waai en dis brandseisoen. So ons moet maar baie noukeurig let op wat ons doen en voorsorg tref.”

Die koue toestande in die Suid-Vrystaat en dele van die Oos-Kaap sal na verwagting minstens ’n week of langer voortduur, en swaar ryp veroorsaak.


Meer noordelike gedeeltes, veral noord-oos van die Vaalrivier, sal ook temperature sien daal, hoewel nie so skerp soos die suidelike dele nie.

In die winterreënvalstreke kan reën ná die naweek tot ongeveer 12 of 13 Julie voorkom, met sommige gebiede wat tot 50 millimeter of meer reën kan ontvang. Van den Berg noem verder dat die suidelike dele van die Noord-Kaap, insluitend Williston en Carnavon, ook reën kan verwag, en die Oos-Kaap sal nie uitgesluit wees van die nat toestande nie.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.