On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

NWK behaal goeie resultate ondanks uitdagende handelsklimaat

───   10:52 Mon, 29 Jul 2024

NWK behaal goeie resultate ondanks uitdagende handelsklimaat | News Article
Foto: NWK

“ ’n Tussentydse dividend van 35 sent per aandeel is reeds uitbetaal en ’n finale dividend van 26 sent per aandeel is goedgekeur.”

Die NWK Beherend-groep se totale inkomste het in 2023/24 met ’n indrukwekkende 20,25%-gestyg en veral sy graansegment het puik presteer danksy goeie graanopbrengste in 2023. Die groep kon egter nie sy rekordwins van 2023 herhaal nie weens ’n ongunstige handelsklimaat wat tot ’n daling van 13% gelei het.

NWK Beherend Beperk se finansiële resultate is Donderdag (25/7) bekendgemaak. Die totale inkomste het met R986 miljoen gestyg (R5 856 miljoen in 2024 vergeleke met R4 870 miljoen in 2023). Die bedryfswins voor finansieringskoste is R607 miljoen teenoor R557 miljoen in 2023.

Die Graansegment spog met ’n verbeterde wins van R58 miljoen of 32% (R241 miljoen in 2024) meer as dié van die vorige finansiële jaar (R183 miljoen in 2023). Tog het die groep se wins van R283 miljoen ná belasting in 2023 gedaal na R246 miljoen, hoofsaaklik weens die daling in pryse van sekere voorraaditems en ’n El Niño-klimaatverskynsel wat produsente genoop het om die rieme styf te trek.

Heinrich Krüger, voorsitter van die NWK-direksie. Foto: NWK

“Ons was reeds met die vorige verslag bewus dat ’n moontlike El Niño-effek wat droër weersomstandighede teweeg bring, gedurende die 2023/24-plantseisoen sou heers. Die weerstoestande het gerealiseer en veral die groep se westelike gebiede is swaar getref,” het Heinrich Krüger, voorsitter van die direksie, gesê.

“Produsente was goed ingelig oor die risiko’s en ons het ervaar dat die handelsegment wesenlik laer presteer het as die vorige jaar. Dit is die resultaat van ’n konserwatiewe benadering deur die produsente wat gelei het tot ’n wesenlike afname in produsente se kooppatrone.”

Insetkoste vir die produsent het gestabiliseer ná die vorige jare se hoëpersentasiestygings en in baie gevalle is groot kostedalings aan produsente deurgegee. As gevolg van strategiese aankope in die vorige finansiële jaar en pryse van chemikalieë wat gedaal het, was daar hoë vlakke van voorraad wat gedurende die jaar en op jaareinde na netto realiseerbare waarde afgeskryf moes word.

‘Kospryse is afwaarts aangepas ná ’n herwaardasie’

NWK Meganisasie het rekord eenheidverkope van heelgoedere aangeteken, maar algehele verkope het drasties in die tweede helfte van 2024 afgeneem soos wat die effek van El Niño duideliker geword het. Daar was gevolglik te veel nuwe en tweedehandse items in voorraad en kospryse is afwaarts aangepas ná ’n herwaardasie van tweedehandse items.

Weens die drastiese dalings in veral glifosaatpryse wêreldwyd moes daar by Midchem prysaanpassings na netto realiseerbare waardes gedoen word. Hierdie afdeling het gevolglik vir die eerste keer sedert sy inlywing by die groep met ’n verlies afgesluit. Alle probleemprodukte is egter nou uitbestuur en dit sal nie ’n invloed op die 2024/25 finansiële jaar hê nie.

Weens beurtkrag- en ander probleme met munisipale infrastruktuur, kon die Epko-sonneblomoliepers, wat sedert 30 April 2023 ten volle in NWK se besit is, egter vir so lank as agt weke nie produseer nie. Die helfte van die verlore produksietyd was in tydperke waar goeie marges op sonneblomruolie gerealiseer kon word. Epko het gevolglik slegs R9 miljoen gegenereer teenoor die vorige jaar se R41 miljoen.

Die direkte verkryging van elektrisiteit vanaf Eskom is egter intussen deur die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit goedgekeur en ’n direkte lyn is in Junie na Epko en omliggende ondernemings aangelê. Daar is voorts op 1 Mei 2023 ’n bykomende belang van 26% in NWK4Sure Brokers Proprietary Limited teen ’n koopprys van R7 miljoen verkry. NWK4Sure Brokers is nou ’n filiaal van die groep, met ’n belang van 76%.

’n Tussentydse dividend van 35 sent per aandeel is reeds uitbetaal en ’n finale dividend van 26 sent per aandeel is goedgekeur.

Die uitwerking van die huidige El Niño-klimaatverskynsel sal eers in die 2024/25 finansiële resultate van die graansegment weerspieël word en behoort ’n wesenlike invloed hier uit te oefen. “Aangesien klimaat een van ons grootste risiko’s is, sal ’n konserwatiewer besigheidsbenadering gevolg word en kontantvloeibestuur sal meer aandag geniet. 

“Geleenthede vir groei sal benut word soos wat betekenisvolle geleenthede vir die groep realiseer,” sê Krüger.

Verklaring verskaf cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.