Agriculture
Storm in Ermelo los gebie op bul─── 19:30 Mon, 05 Aug 2024
“Landboukringe gons ná Hurwitz Farming se veiling, waar Cyclone die Boran-bul die vasteland se duurste bul geword het.”
Op die tiende produksieverkoping van Hurwitz Farming, gehou by Davel naby Ermelo, Mpumalanga, is daar ’n nuwe rekordprys vir ’n bul opgestel.
Die veiling het die plaaslike en internasionale beesbedryf behoorlik laat gons met ’n uitsonderlike prys van R8-miljoen vir ’n Boran-bul, verkoop aan ’n boer van Zimbabwe.
Gareth Hurwitz het sy dankbaarheid uitgespreek vir die sukses van die veiling. “Die resultate was ver bo ons verwagting. Dit gaan nie altyd oor rekordpryse nie, maar dit is wat mense onthou. Vir ons gaan dit oor die verskaffing van kwaliteit beeste wat mense vertrou om terug te neem na hul kuddes om hul teelprogramme te verbeter.”
Hy het ook beklemtoon hoe belangrik die sukses van hierdie verkoping is vir die rooivleisbedryf in Suid-Afrika. “Dit is wonderlik vir die bedryf om te sien dat daar vertroue is in beesvleis, teeldiere en die genetiese materiaal bedryf. Die feit dat dit hier gebeur het, is vir ons baie opwindend.”
Die rekordprys van R8-miljoen is meer as dubbel die vorige rekord wat verlede jaar op R3,5 miljoen gestaan het. “Ons het nooit verwag om so ’n prestasie te behaal nie. Dit is ’n nuwe rekord vir alle beesrasse in Suid-Afrika.”
Die koper van die bul, Collen Tafireyi van Sinyo Boran, is reeds vir ongeveer 18 maande ’n klant van die Hurwitz Farming. “Hy is op ’n missie en het ’n teelprogram wat hy wil volg. Ek glo hy gaan groot sukses behaal.”
Bioskuriteit was ook hoog op die agenda by die veiling. “Bioskuriteit het ’n baie sensitiewe onderwerp in die hele landboubedryf geword, en ons neem dit baie ernstig op.
“Ons het hoë waarde diere in ons teelprogramme en ons moet na hulle omsien. Jy kan dit nie bekostig om slap in hierdie area te wees nie.”
