Agriculture
Kovsies bied binnekort veeartsenykunde aan─── ROBYN SCHUTTE 20:09 Fri, 09 Aug 2024
“Hierdie nuwe program sal ’n deurbraak wees vir die vooruitgang van landbou in die streek, aangesien dit nie net dieregesondheid sal bevorder nie, maar ook nuwe geleenthede vir jong mense sal skep om in dié sektor te groei.”
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) sal vanaf 2027 veeartsenykunde aanbied.
Dr. Lindie von Maltitz, professor in die Department Landbou-ekonomie, het die nuus bekendgemaak op die Vrystaat Landbou-kongres. Dié belangrike toevoeging is ’n reaksie op die nasionale tekort aan veeartse, veral op die platteland, en kan ’n beduidende invloed op die landboubedryf in die Vrystaat en Suid-Afrika hê.
Von Maltitz het die nuwe program beskryf as “’n deurbraak vir die vooruitgang van landbou in die streek” aangesien dit nie net dieregesondheid sal bevorder nie, maar ook nuwe geleenthede vir jong mense sal skep om in dié sektor te groei.
Sy het melding gemaak van die tekort aan jong boere in die Vrystaat, en gesê net 12% van lede van die Vrystaat Landbou-organisasie is jonger boere – ’n tendens wat dringend aandag moet kry.
Die betrokkenheid van jong mense in landbou is lewensbelangrik vir voedselsekerheid en die volhoubaarheid van die bedryf, het sy gesê. “Die gemiddelde ouderdom van boere neem toe, wat ’n ernstige uitdaging vir die sektor inhou.”

Dr. Lindie von Maltitz by die Vrystaat Landboukongres. Foto: OFM
Die UV se nuwe veeartsenykundeprogram bied nie net ’n oplossing vir die tekort aan veeartse nie, maar kan jong mense aanspoor om ’n loopbaan in die landbou te oorweeg. “Ons doen baie navorsing oor hoe om jong mense betrokke te kry en te hou in landbou.”
Hoewel projekte soos die jongboerkomitee en jongboerkongres jong mense wil betrek, is dit nie genoeg nie. Von Maltitz het beklemtoon dat samewerking tussen regeringsvlakke, tersiêre instellings en georganiseerde landbou van kritieke belang is om volhoubare deelname van die jeug in die sektor te verseker.
Die toevoeging van veeartsenykunde tot die UV se kursusaanbod is ’n stap in die regte rigting en kan ’n nuwe era van groei en betrokkenheid inlui in die landbousektor in die Vrystaat, asook die land.
OFM Agri/Robyn Schutte dg/mc
