Agriculture
Vroue in Landbou: Tannie Dorea van Zastron bemagtig met bakkery─── 05:00 Mon, 12 Aug 2024
“Staan vas. Jy hoef nie na ’n ander ou te kyk nie. Jy self kan enige iets doen. Jy moet net glo in jouself.”
In die hartjie van die Vrystaat lê die dorp Zastron waar die lewe rustig vloei, maar die gees van samehorigheid en kreatiwiteit hoogty vier. Een van die merkwaardige vroue wat hierdie kreatiewe gees aanblaas is Dorea van Rooyen. Sy is ’n boervrou wat deur die jare heen haar liefde vir kookkuns en bakwerk in die gemeenskap ingebring het.
Met ons eerste ontmoeting is dit duidelik dat Van Rooyen ’n flukse en dinamiese persoon is en steeds besig is om haar passie vir kos met ander te deel.
"Ek was altyd lief vir naaldwerk. Ek het my kinders se klere gemaak en selfs my eie klere. My man het ’n bees- en skaapboerdery gehad en ek het hom ondersteun waar ek kon.” Die boerdery het hulle besig gehou, maar toe hulle later dorp toe getrek het, het Van Rooyen haar energie na iets anders gekanaliseer – bakwerk.
"Toe ons dorp toe trek, het ek begin bak. Dit hou die pot aan die kook en dis regtig heerlik.” Sy het ook haar talente verder geneem en haar bakkeryprodukte begin bemark deur die plaaslike kontreiwinkel op Zastron. “Ek bak koeksisters, beskuit, klein koekies en natuurlik my groot liefde – gemmerkoekies.”
Die gemmerkoekies is nie net ’n gunsteling onder die plaaslike inwoners nie, maar hou ook ’n spesiale plek in Van Rooyen se hart. “Ek het die reseppie by ’n neef van my gekry. Hy het dit self ontwikkel en elke keer as ek bak, dink ek aan hom." Hierdie sentimentele verbinding met haar neef is duidelik iets wat haar diep raak en sy is trots om die tradisie voort te sit.
‘Ek het vanoggend drieuur begin bak’
Van Rooyen se dae is beslis nie vervelig nie. “Ek het vanoggend drieuur begin bak. Ons is almal vroeg op om te bak en later speel ons Rummikup by die winkel, drink lekker koffie en gesels. Ons is ’n klomp jong ou dames wat dit baie geniet om bymekaar te kom.”
Op die vraag of sy ’n boodskap vir vroue het in die gees van Vrouemaand, antwoord Dorea met wysheid: “Staan vas. Jy hoef nie na ’n ander ou te kyk nie. Jy self kan enigiets doen. Jy moet net glo in jouself.”
‘Ware rolmodel vir die vroue van Suid-Afrika’
Dorea van Rooyen is ’n toonbeeld van die krag en vermoë van plattelandse vroue, en haar storie is een van inspirasie vir almal wat haar pad kruis. Haar betrokkenheid by die gemeenskap, haar liefde vir kos, en haar vasberadenheid om haar eie paadjie te stap, maak haar ’n ware rolmodel vir die vroue van Suid-Afrika.
Zastron word dalk beskou as ’n klein dorpie, maar met vroue soos Van Rooyen is dit duidelik dat groot dinge gebeur waar daar ’n passie en ’n liefde vir die lewe is.
