On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: NUTRI Feeds se Santa Ferreira

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 13 Aug 2024

Vroue in Landbou: NUTRI Feeds se Santa Ferreira | News Article
Santa Ferreira, die nasionale bemarkingsbestuurder van NUTRI Feeds. Foto verskaf

“Landbou hou jou op jou knieë en die lesse wat jy in die sektor leer, vorm jou.”

Santa Ferreira, die nasionale bemarkingsbestuurder van NUTRI Feeds, is ’n dinamiese leier diepgeworteld in die landboubedryf. Met ’n loopbaan wat dekades strek en ’n passie wat teruggaan na haar kinderjare in die Vrystaat, het sy haarself gevestig as ’n invloedryke figuur in landbou. 

Ferreira se wortels lê in die Vrystaat, waar sy grootgeword en haar skoolloopbaan in Wepener voltooi het, wat sy laggend beskryf as “een van die koudste dorpe in Suid-Afrika.” Haar reis is een van deursettingsvermoë, toewyding, en die onverwagse paaie wat haar gelei het na die hart van ’n bedryf wat haar, soos sy sê, “gekies het.”

Ferreira se loopbaan in landbou het in 2002 begin, ná ’n moeilike persoonlike reis. Sy het destyds ’n pos aanvaar by die gewese Suid-Wes Landbou in Leeudoringstad as bestuurder van bemarkingskommunikasie, ’n posisie wat haar liefde vir die bedryf verdiep het. Ferreira het haar studies in strategiese bemarkingsbestuur by die Universiteit van die Vrystaat voltooi en het later uitgebreide ervaring opgedoen in die media- en handelsbedryf.


Vir die afgelope vier jaar is Ferreira werksaam by NUTRI Feeds, een van die drie grootste veevoermaatskappye in Suid-Afrika, waar sy die nasionale bemarkingsbestuurder vir Suid-Afrika, Botswana en Namibië is.

Sy glo dat landbou jou op jou knieë hou en dat die lesse wat sy in die sektor geleer het, haar gevorm het: “Jy moet doen wat jy moet gaan doen om ’n verskil te kan maak.”

As vrou in ’n bestuursposisie, veral in die landboubedryf, besef sy dat sy soms onderskat word. Tog hoop sy om ’n blywende impak in die maatskappye waar sy gewerk het, te maak. Haar droom vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika is eenvoudig: dat elke boer ’n bestaansreg sal hê, dat nuwe ministers ’n positiewe verskil aan misdaad en plaasaanvalle kan maak, en dat die nasie sal leer om saam te staan.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.