On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Minister beklemtoon toekomsplanne vir landbou in Suid-Afrika

───   ROBYN SCHUTTE 06:00 Tue, 13 Aug 2024

Minister beklemtoon toekomsplanne vir landbou in Suid-Afrika | News Article
Minister van Landbou, John Steenhuisen, tydens sy toespraak by die Vrystaat Landbou se jaarkongres in Bloemfontein. Foto: Facebook/Vrystaat Landbou

“Ons het van die beste boere in die wêreld, wat kompeterend bly op internasionale markte, ondanks minimale staatsondersteuning in vergelyking met ander lande.”

John Steenhuisen, die minister van landbou, het tydens Vrystaat Landbou se jaarkongres in Bloemfontein sy visie vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika gedeel.

Hy het die strategiese belang van landbou in die land se ekonomie en voedselproduksie beklemtoon, en sy ambisieuse planne uiteengesit om die sektor te versterk en uit te brei.

Steenhuisen sê dat landbou een van die belangrikste bedrywe in Suid-Afrika is, nie net vir voedselsekerheid nie, maar ook vir ekonomiese stabiliteit. “Ons benodig die landbousektor drie keer per dag,” benadruk hy, en verduidelik verder dat die bydrae van landbou tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) ’n integrale rol speel in die land se ekonomiese groei, veral in uitdagende ekonomiese tye.

‘Ons het van die beste boere in die wêreld’

“Die landbousektor het ons ekonomie gehelp om staande te bly,” sê hy en verwys na die eerste kwartaal van 2024, waar landbou die ekonomie ’n broodnodige hupstoot gegee het.

Steenhuisen spreek sy voornemens uit om nou saam met georganiseerde landbougroepe te werk soos Vrystaat Landbou, Agri SA, en ander landbou-organisasies om gemeenskaplike doelwitte te bereik en uitdagings in die sektor aan te spreek.

“Ons het van die beste boere in die wêreld,” sê hy en voeg by dat Suid-Afrikaanse landbouprodukte kompeterend bly op internasionale markte, ondanks minimale staatsondersteuning in vergelyking met ander lande.


Hy beklemtoon dat samewerking tussen die regering en die landbousektor noodsaaklik is om die volle potensiaal van die sektor te ontsluit. Dit sluit in die identifisering en verwydering van knelpunte wat die uitbreiding van produksie en die toegang tot nuwe markte belemmer.

Hy lig ook die potensiaal van die landbousektor vir werkskepping uit, veral vir ongeskoolde werkers, wat ’n groot deel van die land se werklose bevolking uitmaak.

Steenhuisen plaas verder klem op die verbetering van biosekuriteit in Suid-Afrika, insluitend die produksie van entstowwe vir dieregesondheid. Hy erken dat die land se huidige afhanklikheid van ingevoerde entstowwe onaanvaarbaar is en dat daar dringend ’n behoefte is om plaaslike produksie te verhoog.

‘Hy sal saam met die Minister werk om die landelike veiligheidsplan te versnel’

Hy bevestig dat hy reeds in gesprek met Onderstepoort Biological Products (OBP) is om die produksie van noodsaaklike entstowwe te versnel, en het aangedui dat die privaat sektor moontlik betrokke kan word indien OBP nie aan die vraag kan voldoen nie.

Hy verwys na die noodsaaklikheid van ’n nasionale opsporing- en naspeurbaarheidstelsel vir vee, wat nie net belangrik is vir die land se internasionale handelsvennote nie, maar ook ’n effektiewe instrument kan wees in die bekamping van veediefstal. 

Wat landelike misdaadbekamping betref, sê Steenhuisen dat hy saam met die Minister van Polisie sal werk om die implementering van die landelike veiligheidsplan te versnel. Hy het voorgestel dat die herinstelling van ’n kommandostelsel ’n doeltreffende manier kan wees om veiligheid in landelike gebiede te verbeter.

‘Ek wil ’n minister wees wat hierdie sektor op die voorpunt van vooruitgang hou’

Hy lê ook klem op moderne tegnologie ’n soos hommeltuie wat ’n sleutelrol sal speel in die monitering van uitgestrekte landelike gebiede, die opsporing van misdaad, en die bewysversameling vir vervolgings.

Steenhuisen herhaal sy toewyding om die sektor te ondersteun deur ’n regulatoriese omgewing te skep wat bevorderlik is vir landbou-innovasie en groei. Hy deel sy visie vir ’n verenigde en vooruitstrewende landbousektor waarin boere en landelike gemeenskappe volhoubaar kan produseer, internasionale markte kan betree, en ’n deurslaggewende bydrae kan lewer tot Suid-Afrika se ekonomie.

“Ek wil ’n minister wees wat hierdie sektor op die voorpunt van tegnologie en vooruitgang hou,” sê Steenhuisen en spreek sy hoop uit dat die landbousektor in die komende jare sal floreer, gegrond op ’n sterk fondament van samewerking, veiligheid, en biosekuriteit.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.