On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Alani Janeke boer met stories

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Wed, 14 Aug 2024

Vroue in Landbou: Alani Janeke boer met stories | News Article
Alani Janeke, landboujoernalis by ‘Landbouweekblad’. Foto verskaf

“My visie vir die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou is een van groei en innovasie, geïnspireer deur boere se vermoë om altyd ’n plan te maak, ongeag die uitdagings.”

In landboujoernalistiek staan Alani Janeke uit as ’n dinamiese en passievolle stem. 

Dié boorling van Bloemfontein wat grootgeword het op Bethlehem in die Oos-Vrystaat, het haar loopbaan as joernalis by OFM begin, toe ’n draai gemaak in georganiseerde landbou, en vandag is sy ’n bekende naam by Landbouweekblad. 

Janeke se eerste kennismaking met landbou was op haar oupa se plaas waar sy kleintyd die eenvoudige maar ryk plaaslewe leer ken het. Hierdie vroeë blootstelling het ’n onuitwisbare indruk op haar gemaak en uiteindelik haar loopbaan as landboujoernalis gevorm.

Haar werk in landboujoernalistiek het begin toe sy op ’n OFM-nuusvergadering onverwags gevra is om iets oor melkboerdery te sê. “’n Kollega wat landbou gedek het, het bedank en die nuusredakteur vra toe wie wil oorvat. Ons het almal so na die dak sit en staar toe hy vra ‘vertel vir my iets oor ’n  melkkoei’ en ek antwoord ‘’n Jersey of ’n Holstein?’; toe is die landbou ‘beat’ myne.”

Wat Janeke as landboujoernalis onderskei, is haar diep begrip en respek vir die boeregemeenskap. Sy het met die jare geleer om suksesvol in hierdie veld te wees, moet ’n mens nie net die feite regkry nie, maar ook die stories verstaan en die boeregemeenskap, wat sy as ’n familie beskryf, se vertroue respekteer.

“Daar’s net ’n sekere manier van dink en omgee vir die wêreld en die mense om jou, waarmee ’n mens daagliks te doen kry binne-in die landboumedia, wat jy nie elders ervaar nie. Daar’s ’n warmte in die landbou wat dit ’n baie aangename plek maak om te werk en die mense se stories te vertel. Dit is regtig iets uitsonderliks.”

Met haar verslaggewing wil sy ook ’n draer van hoop en inligting wees, iemand wat boere toerus met die kennis wat hulle nodig het om beter besluite te neem. Haar skryfwerk is dikwels toegespits op klimaat- en weerpatrone, ’n onderwerp van groot belang vir die landbougemeenskap.

Alani Janeke besig om verslag in die veld te doen tydens ’n sneeuval. Foto verskaf.

“’n Boer maak ’n plan is nie ’n gesegde nie, dis ’n leefwyse. Ek hoop dat ek met my bydrae van daardie boere kan inspireer met hulle planne of dalk net inspireer met iemand anders se storie as hulle dit dalk die dag nodig het om vorentoe te kan beweeg in ’n moeilike tyd.”

Janeke se visie vir die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou is een van groei en innovasie. Sy word geïnspireer deur die boere se vermoë om altyd ’n plan te maak, ongeag die uitdagings. Sy glo die sektor sal aanhou groei en aanpas, terwyl nuwe tegnologieë en metodes ’n sleutelrol sal speel in sy voortgesette sukses.

‘Dis vir my lekker om deel te wees van die generasie wat landbounuus nie net meer in ’n gedrukte of tradisionele weergawe deel nie, maar ook aanlyn en in verskillende formate.’

Deur haar loopbaan het Janeke gewerk om die landboubedryf nie net aan die plaaslike gemeenskap bekend te stel nie, maar ook aan ’n wyer gehoor.

“Daar’s soveel belangstelling in landbou en in dit wat boere hier (in Suid-Afrika) kan regkry, dat dit steeds soveel lugtyd geniet. Ek dink daar gaan altyd ’n plan te maak wees in die landbou en dis 100% wat ek sien as die toekoms.”

Alani Janeke is inderdaad ’n storieboer in die landbousektor, iemand wat met passie en toewyding werk om die stories van Suid-Afrika se boeregemeenskap te deel en te vier. Haar nalatenskap sal ongetwyfeld een van positiewe bydraes en diepgaande empatie wees, nie net vir die landbousektor self nie, maar vir die mense wat dit dryf.

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.