On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou vereer bydraers

───   ROBYN SCHUTTE 14:26 Wed, 14 Aug 2024

Vrystaat Landbou vereer bydraers | News Article
Friedl von Maltitz, Steyn Groenewald, Francois Wilken en Mariaan Moller. Foto: Vrystaat Landbou

“Spesiale Oorkondes is oorgedra om erkenning en dankbetuiging te bewys vir hul betrokkenheid en uitnemende dienste.”

Tydens Vrystaat Landbou se 120ste jaarkongres in Bloemfontein is verskeie lede vir hul bydrae vereer.

Spesiale Oorkondes is oorgedra om erkenning en dankbetuiging te bewys vir hul betrokkenheid en uitnemende dienste soos aan Borrie Erasmus, Dirk Janse van Rensburg, John Kotze en Kobus Nel. Oorkondes is ook aan dr. Jane Buys en Gernie Botha, personeellede van Vrystaat Landbou, oorhandig.

Die Streekverteenwoordiger van die Jaar-toekenning is aan Johan Fourie, Streek 17 (Naledi), oorhandig vir die uitnemende dienste wat hy aan die landbougemeenskap, komitees en personeel gelewer het in sy hoedanigheid as streekverteenwoordiger vir 2023/2024.

‘Pilare van die gemeenskap waarin hulle funksioneer’

Daar was ook groot opwinding oor die landbouvereniging van die jaar se toekenning. Landbouverenigings word beskryf as die pilare van die gemeenskap waarin hulle funksioneer en vanjaar het Steynsrus Distriks Boere-Unie met die louere weggestap. Dié groep het ook R25 000 lugtyd van OFM ontvang om te gebruik om hul bedrywighede te bemark.

Met hierdie toekennings en erkennings het die Vrystaat Landboukongres 2024 ’n onvergeetlike afsluiting gehad wat die belangrikheid van samewerking en volhoubaarheid in die landbousektor onderstreep het.

Die Vrystaat Landbou-kongres het vanjaar weer die kollig gesteel as ’n kernbyeenkoms in die provinsie se landboukalender. Die kongres, wat oor twee dae in Bloemfontein aangebied is, het talle belangrike kwessies bespreek wat die bedryf raak, met sprekers van oor die land heen wat hul kennis en insigte gedeel het.

‘Boere is Suidpool van hierdie waardeketting’

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, het tydens sy presidentsrede die landbou-waardestelsel met die aardbol vergelyk. “Boere is die Suidpool van hierdie waardeketting en die verbruikers is die Noordpool. In middel is ’n vet boeppens. As die twee pole tot niet gaan, val die hele boeppens uitmekaar.”

Hoewel Wilken bekommerd is oor die huidige stand van landbou, het hy beklemtoon dat dit nie die bedrywe van boere is nie, maar die swak infrastruktuur wat nie hul bedrywe ondersteun nie. 

Die organisasie wat vanjaar sy 120ste bestaansjaar vier, het met sy jaarkongres besluit om te fokus op die pad vorentoe vir landbou in die Vrystaat. Die kongres het vanjaar ’n indrukwekkende reeks sprekers op die verhoog gehad.

‘Toekoms as Suid-Afrikaanse boere’

Prof. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van finansieringsdiensste by BKB, het in sy toespraak lede bemoedig en ’n raamwerk voorgestel wat hulle toelaat om te dink aan hul toekoms as Suid-Afrikaanse boere.

Elzabé Rockman, LUR vir Landbou in die Vrystaat, het in haar toespraak samewerking tussen departemente en belanghebbendes uitgelig om die vooruitgang van die bedryf vorentoe te stuur, veral om die bydrae van die provinsie se bruto binnelandse produk  te verhoog.

Sy het voorheen belowe om alle sloering uit haar departement uit die weg te ruim en boere is gemaan om dieselfde in hul bedryf te doen. 

OFM Agri/Robyn Schutte

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.