Agriculture
Vrystaatse damvlakke daal steeds─── 09:23 Fri, 16 Aug 2024
“Die afname word toegeskryf aan die gebrek aan reënval in die meeste dele van die provinsie gedurende die winterseisoen.”
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) doen ’n beroep op watergebruikers in die Vrystaat om water spaarsamig te gebruik en bewus te wees van hul waterverbruik.
Vrystaatse damvlakke toon steeds ’n dalende neiging, met ’n afname van 82% na 81.6% hierdie week, volgens die nuutste weeklikse hidrologiese verslag deur die (DWS). “Hierdie daling is beduidend laer in vergelyking met verlede jaar se 96.8% in dieselfde tydperk.”
Die afname word toegeskryf aan die gebrek aan reënval in die meeste dele van die provinsie gedurende hierdie winterseisoen.
Die Kalkfonteindam by Koffiefontein het in 2022 ’n vlak van 110,98% bereik.
Die meeste distriksmunisipaliteite in die Vrystaat het ook ’n afname in hul watervlakke ervaar.
- Die Mangaung Metro het volgens die Departement van Water en Sanitasie ’n daling getoon van 87% verlede week tot 86.8% hierdie week, wat ook laer is as verlede jaar se 96.7% gedurende dieselfde tyd.
- Die Bloemfonteinse Water Voorraadsisteem, wat bestaan uit vier damme wat water aan Mangaung en omliggende gebiede voorsien, het effens gedaal van 85,7% verlede week na 85,4% hierdie week.
- In die Thabo Mofutsanyane Distrik het watervlakke dieselfde gebly op 97,8% hierdie week, wat steeds laer is as verlede jaar se 99,7%.
- Die Metsi-Matsho Dam het egter ’n groter daling beleef, van 81,1% verlede week na 79% hierdie week. Verlede jaar in dieselfde tydperk was die dam se vlak op 80,6%.
- Die Sterkfontein Dam het ’n effense styging ervaar van 98,3% verlede week tot 98,4% hierdie week, alhoewel dit steeds laer is as verlede jaar se 100% in dieselfde tyd.
- Die Fika-Patso Dam het gedaal van 58% tot 56,3% hierdie week, in vergelyking met verlede jaar se 76,1% in dieselfde tyd.
- Die Xhariep Distrik het afgeneem van 86% na 85,4% hierdie week, en dit is ook laer as verlede jaar se 97,4%.
- In die Fezile Dabi Distrik het die waterkapasiteit effens gedaal van 71,6% na 71,1% hierdie week, vergeleke met verlede jaar se 96,1%.
- Die Lejweleputswa Distrik se damvlakke het onveranderd gebly op 87,6% hierdie week, maar dit is steeds ’n merkbare afname teenoor verlede jaar se 101,6%.
- Die Rustfontein Dam staan tans op 70,9% hierdie week in vergelyking met verlede week se 71,9%, wat ’n groot daling is teenoor verlede jaar se 93,4% in dieselfde tyd.
- Die Groothoek Dam is op 65,2% hierdie week teenoor verlede week se 65,5%, wat ook laer is as verlede jaar se 93,6%.
[WATCH] Minister Pemmy Majodina assures that the Ministry of Water and Sanitation is working to ensure water security in the country by 2030 and beyond, as part of the Sustainable Development Goals.
— Water&SanitationRSA (@DWS_RSA) August 5, 2024
Minister Majodina further calls for prudent water use by all. @David_Mahlobo1… pic.twitter.com/3PjFDdd3cl
Die hoofdamme in die Vrystaat ervaar ook ’n daling in hul watervlakke.
- Die Krugersdrift Dam het onveranderd gebly op 92,5% hierdie week, wat steeds laer is as verlede jaar se 100,4%.
- Die Gariep Dam het verder gedaal na 77,0% hierdie week, teenoor verlede week se 77,8%. Verlede jaar was hierdie dam op 95,9% in dieselfde tydperk.
- Die Vanderkloof Dam het effens afgeneem van 99,9% na 98,8% hierdie week, wat ook ’n daling is in vergelyking met verlede jaar se 99,6%.
“Hierdie dalende damvlakke is ’n bron van kommer vir die omliggende gemeenskappe en die landbousektor wat afhanklik is van hierdie damme as ’n bron van water. Aangesien Suid-Afrika ’n waterskaars land bly, is dit noodsaaklik dat alle watergebruikers hul besparingspogings versterk om die volhoubaarheid van hierdie beperkte hulpbron in die provinsie te verseker,” sluit die departement af.
OFM Agri cg
