Agriculture
Vroue in Landbou: Sparta se ‘dirigent’, Estelle van Reenen─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Mon, 26 Aug 2024

Van Reenen vergelyk haar rol as hoof uitvoerende beampte met dié van ’n dirigent van ’n orkes.
In gesprek met Estelle van Reenen, die hoof uitvoerende beampte van die Sparta Beef-groep, kry ’n mens die indruk van ’n statige dame wat haar storie ken, maar wat met nederigheid en opregtheid met ander omgaan.
Sedert 2007 hou sy die leisels van die besigheid, wat reeds in 1966 deur haar wyle vader, Dirk van Reenen, op die familieplaas Sparta by Marquard in die Oos-Vrystaat gestig is. Sy’s ook ’n gerekende in die rooivleisbedryf en dien verskeie organisasies soos die Red Meat Industry Services (RMIS), is voorsitter van die Voerkraalvereniging en was ook voorheen voorsitter van die Abattoirvereniging.
Van Reenen vergelyk haar rol as hoof uitvoerende beampte met dié van ’n dirigent van ’n orkes. “Jy kan onmoontlik elke instrument self speel, maar jy gaan duidelik hoor as iemand vals speel of op die verkeerde tyd inval. So die vermoë wat jy moet hê is om ’n bietjie van alles te weet en te weet hoe alles in mekaar inpas.”
Gebore en getoë op die familieplaas, wat in 1906 gestig is, was Van Reenen reeds van ’n jong ouderdom af bewus van die natuur se kragte en die impak daarvan op die wel en weë van die familie en die gemeenskap. Sy het egter nooit gedink dat sy eendag aan die stuur van die familiebesigheid sou staan nie.
Ná skool op Eunice in Bloemfontein, het sy haar in regte by die Stellenbosch Universiteit bekwaam en vir tien jaar lank as prokureur gepraktiseer voordat sy deur haar pa genader is om by die besigheid aan te sluit. “Ek en hy het vir sowat ses maande onderhandel voordat ek die skuif gemaak het. Hy wou toe hê ek moet na bietjie van alles omsien en kyk waar ek ’n bydrae kan maak.”
Lynette (van Reenen) van Rooyen, Lou van Reenen, Estelle van Reenen en Erika (van Reenen) Kok. Foto: Facebook/Sparta Beef
Sy vertel hierdie periode was ’n baie interessante reis en sy moes die vertroue wen van baie mans wat lank reeds in die bedryf was. “So het ek in die meeste afdelings van die besigheid gewerk tot ek uiteindelik ná vyf jaar aangestel is as die hoof uitvoerende beampte van die hele besigheid.”
Van Reenen beskryf haarself as ‘a Jack of all trades’. “My pa het dit eintlik eendag aan ’n vriend van hom baie eenvoudig gestel: ‘Stella is soos ’n bobbejaanspanner. Jy kan haar op enige plek gebruik’,” skerts sy. “Ek dink nie mense besef altyd hoeveel vaardighede landbou eintlik van ’n persoon verg nie. En ek dink dis daarom dat ek dit so geniet, want ek leer elke dag nuwe dinge.”
Vandag se toonaangewendheid kom egter deur tradisie en toewyding. Van Reenen se betrokkenheid by die landbou het haar baie waardevolle lesse geleer. “Die landbou hou jou baie nederig en ek het ’n baie besondere harde les geleer met die bek-en-klouseer uitbreking. Een dag is jy nog in beheer van ’n florerende gesonde besigheid in die volgende dag veg jy vir oorlewing. Dis ook dan wat jy besef wie die mense is op wie jy kan staat maak.”
Estelle van Reenen en haar wyle pa, Dirk van Reenen. Foto: Facebook/Sparta Beef
Gedurende hierdie beproewende tyd het Van Reenen ook weer besef wat die waarde van goeie sakeverhoudings is. “Ons het ongelooflike ondersteuning ontvang van ons verskaffers en ook ons bankiers. Die hart van die breër landbougemeenskap is aan my geopenbaar.”
Daar’s ook diep dankbaarheid vir die Sparta-familie, “ons moet eintlik die mense wat vir Sparta werk, baie bedank. Dit was moeilike tye en die manier waarop ons mense net deurgekom het as ’n familie in hierdie besigheid, was fantasties.”
“Ek ag myself so gelukkig om deel te kan wees van hierdie bedryf,” vertel Van Reenen wat hoop dat haar nalatenskap een van objektiewe en regverdige besluitneming sal wees. “Dat ek hard op standaarde was, maar hopelik sag op mense; dat ek hierdie ongelooflike voorreg kon gehad het om mense te mentor, en kon deel wees van ’n familiebesigheid wat uitgebou is om meer as ’n duisend mense werk te gee.”
Estelle van Reenen se hande staan vir niks verkeerd nie en die besigheid deel ook familieresepte op hul webtuiste. Foto: Facebook/Sparta Beef
Van Reenen het ’n baie positiewe visie vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika. Sy glo in ’n inklusiewe sektor wat deur samewerking tussen die regering en die bedryf gekenmerk sal word. “In die veebedryf is daar eintlik ’n goudmyn wat nog ontgin moet word. Sowat 40% van ons kudde is eintlik in die besit van opkomende boere en ons moet daaraan werk om meer kalwers te kan produseer. Dit is ook deel van die toekomsvisie van RMIS en daar word ongelooflike werk gedoen om dit te laat realiseer.”
Verder beklemtoon sy die belangrikheid van nuwe uitvoermarkte en hoe dit die hele bedryf bevoordeel. “Soos die Engelse gesegde lui ‘a rising tide lifts all ships’. Ek is baie positief oor die landbou in Suid-Afrika en daar’s beslis, agter die skerms, baie goed aan die gebeur. Ek dink partykeer is party boere baie negatief, maar as ons net kyk na wat alles al in die laaste 30 jaar gebeur het, is daar soveel positief waarop ons kan voortbou en konsentreer.”