On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Jongste oor bek-en-klouseer in Oos-Kaap

───   17:54 Tue, 27 Aug 2024

Jongste oor bek-en-klouseer in Oos-Kaap | News Article
Foto: Getty Images

“Benewens die beheermaatreëls binne die Oos-Kaap se SBG herinner die Staatskoerant-kennisgewing veeboere daaraan dat spleethoewige diere dwarsoor Suid-Afrika slegs geskuif mag word indien hulle vergesel word van ’n gesondheidsverklaring.”

Die departement van landbou is versigtig optimisties dat die onlangse bek-en-klouseer- (BKS) uitbrekings in die Kouga- en Kou-Kamma-munisipaliteit in die Oos-Kaap onder beheer gebring is.

“Meer as ’n maand het verloop sedert die laaste kliniese gevalle op voorheen onaangetaste plase waargeneem is, en die algehele situasie blyk gestabiliseer te het,” lui ’n departementele verklaring.

Talle plase vooruit ingeënt

Tot op hede is 32 plase in die Humansdorp-omgewing en een plaas in die Oos-Londen-gebied positief bevestig en ingeënt teen BKS. “Alle verdagte letsels word deeglik ondersoek, terwyl een geval wat steeds wag op toetsuitslae om die status daarvan te bepaal.

“In ’n proaktiewe poging om die impak van moontlike infeksies te beperk, is 37 plase vooruit ingeënt.”

Die departement herinner veeboere dat inenting nie infeksie voorkom nie; ingeënte beeste kan steeds besmet raak en die siekte versprei. Inenting dien hoofsaaklik om die erns van simptome te verminder, wat biosekuriteitsmaatreëls van kardinale belang maak om die invoer en verspreiding van die siekte te voorkom.

Boere word sterk aanbeveel om streng biosekuriteitsprotokolle op ingeënte plase te handhaaf. “Die 70 besmette en/of ingeënte plase bly onder kwarantyn, en geen lewende diere mag van hierdie eiendomme af beweeg sonder toestemming van die staatveeartseny nie.”

Sedert die uitbreking in Mei begin het, is altesaam 96 906 beeste en 635 skape ingeënt. Die departement het ’n Siektebestuursgebied (SBG) verklaar wat dele van die Kouga- en Kou-Kamma-munisipaliteit insluit.

‘Sedert die SBG ingestel is, is geen nuwe gevalle van BKS aangemeld nie’

“Die primêre doel van die SBG is om die uitwaartse verspreiding van die uitbreking na onaangetaste gebiede te voorkom. Verder poog die SBG om die oordrag binne die geaffekteerde gebiede te verminder en sodoende die virale lading en infeksiedruk te verlaag.”

Die departement staaf sedert die SBG ingestel is, is geen nuwe gevalle van BKS aangemeld nie, en daar was geen verspreiding buite die grense van die gebied nie. “Dit dui daarop dat die bewegingsbeheer binne en buite die SBG doeltreffend is in die inperking van die siekte.”

Die Gesamentlike Operasionele Komitee vergader tweeweekliks om voortgesette kommunikasie en samewerking tussen alle betrokke partye te verseker.

Benewens die beheermaatreëls binne die Oos-Kaap se SBG, herinner die Staatskoerant-kennisgewing van Julie 2024 veeboere daaraan dat spleethoewige diere dwarsoor Suid-Afrika slegs geskuif mag word indien dit vergesel word van ’n gesondheidsverklaring van die eienaar wat die gesondheid van die diere op die tydstip van beweging bevestig.

Verder moet enige beeste, skape of bokke wat nuut op ’n plaas ingevoer word, vir minstens 28 dae apart van die bestaande troppe gehou word. Hoewel hierdie wetlike vereiste sedert Oktober 2022 bestaan, word dit nou weer beklemtoon.

‘Spleethoewige diere moet slegs geskuif word wanneer dit absoluut noodsaaklik is’

“Die Departement van Landbou beveel sterk aan dat alle veeboere landswyd dierbewegings so veel as moontlik beperk. Spleethoewige diere moet slegs geskuif word wanneer dit absoluut noodsaaklik is, om sodoende die identifisering en kwarantyn van enige onopgespoorde, geaffekteerde eiendomme toe te laat en verdere verspreiding van die siekte te voorkom.”

Enige verdagte kliniese simptome (speekselvorming, blase in die mond, mank loop, of letsels op die hoewe) moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word, en sulke diere mag onder geen omstandighede verskuif word nie.

OFM Agri mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.