On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Jong leiers lewer kragtige boodskap oor toekoms van landbou

───   13:43 Wed, 28 Aug 2024

Jong leiers lewer kragtige boodskap oor toekoms van landbou | News Article
Dirk Krapohl, Bennie Mans, Stephan Maritz en Willem Symington. Foto: OFM

“Landbou is die hartklop van ons samelewing en ekonomie.”

In ’n voorlegging wat die belangrikheid van jong mense in die landbousektor beklemtoon, het twee leerders hul toegespits op die uitdagings in die bedryf en hoe die nuwe generasie die potensiaal het om dit te hervorm.

Bennie Mans en Stephan Maritz, twee leerders aan die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas, het hul visie oor die toekoms van landbou gedeel op Agri Noord-Kaap se jaarkongres in Kimberley.

‘Landbou is die hartklop van ons samelewing’

Mans het sy toespraak begin deur die sentrale rol van landbou in Suid-Afrika se samelewing en ekonomie te onderstreep. “Landbou is die hartklop van ons samelewing en ekonomie. Dit is van uiterste belang om die pad vorentoe met visie en entoesiasme te benader.” 

Hy het ook ’n kort meningspeiling, van sy medeleerders se agtergrond, asook aspirasies om eendag ’n beroep in verskillende sektore van die landbou te volg, gedeel en tot die gevolgtrekking gekom: “Ons sien die nuwe generasie se rol soos volg: uitbreiding deur innoverend te dink en aanpasbaarheid.”

Bennie Mans. Foto: Facebook/Hmo Kakamas

Hy het beklemtoon dat tradisionele landboumetodes wat geslagte lank gebruik is, nie meer voldoende is om die toenemende vraag na voedsel te bevredig nie. “Die druk op natuurlike hulpbronne soos water en grond neem toe; ons moet leer hoe om doeltreffender en volhoubaar te boer. 

”Klimaatsverandering, groeiende voedselvraag en die politieke toestand plaas enorme druk op die sektor. Dit is genoeg om die jeug van die bedryf af te skrik.”

Hierdie uitdagings bied ook geleenthede vir kreatiewe oplossings veral deur die gebruik van nuwe tegnologie. “Die nuwe generasie het ’n voordeel. Ons is gebore in ’n tyd van tegnologiese vooruitgang, vinnige toegang tot inligting en ’n groeiende bewustheid van die omgewing.”

Gehalte en relevante opvoeding en opleiding is egter uitgelig as krities vir hierdie nuwe generasie boere om sukses te behaal. “Akademiese en navorsingsinstellings moet byhou met die vinnige vordering in tegnologie en wetenskap. Kursusse moet aangepas word om die jonger geslag voor te berei op dit wat in die toekoms op ons wag.”

Op sy beurt het Maritz genoem dat volhoubaarheid een van die groot uitdagings is wat die jeug moet aanpak. “Die impak van tradisionele landboupraktyke op die omgewing is groot, van gronddegradasie, tot watervoorsieningskwessies en die vrystelling van kweekhuisgasse. Dit is hier waar die nuwe generasie die grootste verskil kan maak.”

Stephan Maritz (regs) spreek die kongresgangers toe terwyl Mans aandagtig luister. Foto: Facebook/Hmo Kakamas.

Maritz meen die jeug is aanpasbaar in ’n veranderende omgewing. “Deur volhoubare metodes en tegnologie te omarm sal ons nie die omgewing beskerm nie, maar ook ’n gesonde en produktiewe landboubedryf handhaaf. Ons moet braaf genoeg wees om innoverende tegnieke soos organiese landbou en integrasie van biodiversiteit in ons landboupraktyke te toets.”

Volgens Maritz het die nuwe generasie landbouers die potensiaal nie net om die landboubedryf te hervorm nie, maar ook om sosiale en ekonomiese veranderinge in die plattelandse gemeenskappe te bevorder. “Landbou is nie net ’n ekonomiese aktiwiteit nie, dit het ook ’n direkte impak op die lewe van mense wat in landelike gebiede woon.”

‘Dit vereis ’n gesamentlike poging’

Hy het ook die belangrikheid van samewerking onderstreep. “Geen enkele individu of organisasie kan alleen die uitdagings van moderne landbou aanpak nie. Dit vereis ’n gesamentlike poging van die regering, die private sektor, akademiese instellings en die gemeenskap. 

“Dit is die taak van die nuwe generasie om ’n samewerkende benadering te omhels, idees en hulpbronne te deel en ’n gesamentlike poging aan te wend om die bedryf vooruit te stoot.”

Ná afloop van hul toespraak het die twee ook die Stoffel Lourens Trofee ontvang.

OFM Agri dg/mc

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.