On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Vir Danielle is boer-wees ’n roeping, nie ’n beroep nie

───   ROBYN SCHUTTE 16:12 Wed, 28 Aug 2024

Vroue in Landbou: Vir Danielle is boer-wees ’n roeping, nie ’n beroep nie | News Article
Vir Danielle de Kock is boer-wees meer as net ’n beroep, dit is haar roeping. Foto verskaf

“Ek is ’n plattelandse meisie, my lewenspad is onlosmaaklik verweef met die landbou.”

Danielle de Kock, ’n trotse boervrou van Hertzogville, Vrystaat, is die toonbeeld van deursettingsvermoë en toewyding. Gebore in Bloemfontein, het sy haar hele lewe lank op die plaas by Hertzogville deurgebring, waar haar ouers, oumas en oupas almal diep gewortel is. “Ek is ’n plattelandse meisie,” vertel De Kock, en haar lewenspad is onlosmaaklik verweef met die landbou.

De Kock het haar vroeë jare op ’n plaasskool in Hertzogville deurgebring, waar sy uitstekende onderrig ontvang het. Sy het later die voorreg gehad om in Bloemfontein aan ’n groter skool te studeer en uiteindelik verder te studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. In haar derde jaar aan die universiteit het haar lewenspad ’n onvoorsiene wending geneem toe haar ma die boerdery op hul 880ha plaas moes oorneem. De Kock het haar ma bygestaan en saam het hulle die plaas bestuur, ondanks die uitdagings van ’n tipies man-georiënteerde beroep.

“Ons is twee vrouens wat saam boer,” vertel sy. “Ons het nie die fisieke krag wat mans het nie, maar ons werk slim om alles gedoen te kry.” Hierdie ingesteldheid het hulle gelei tot groter sukses en ’n groeiende plaas, wat nou aansienlik meer grond en beeste het. Vir De Kock is dit ’n besondere voorreg om elke dag saam met haar ma op die plaas te werk.

 

De Kock se liefde vir die landbou, en spesifiek vir beesboerdery, het op ’n baie jong ouderdom begin. “Ek was vyf jaar oud toe my pa beeste gewerk het, en ek het van die oggend tot die aand ’n klein kalf in die kraal op en af gejaag,” vertel sy laggend. Hierdie eerste blootstelling het haar passie vir beesboerdery aangewakker en was die begin van haar toewyding aan landbou.

Vir De Kock is boer-wees meer as net ’n beroep; dit is haar roeping. “Ek is gemaak om om te sien na wat aan my toevertrou is,” sê sy. Hierdie diep geloof en roeping het haar gehelp om deur die uitdagings van die landbou te bly werk en altyd hoopvol vorentoe te kyk.

De Kock is ook betrokke by die gemeenskap en is ’n aktiewe lid van Vrystaat Landbou, waar sy dien op die Vrystaat Landbou Jongboerkomitee. Sy is ook ’n lid van haar plaaslike boerevereniging. Sy is veral passievol oor die ondersteuning van jong boere en sy geniet dit om haar kennis en ervaring met hulle te deel. “Ek hou daarvan om mense te help, maar ook om nuwe dinge by hulle te leer,” vertel sy. 

De Kock se liefde vir die landbou, spesifiek vir beesboerdery, het op ’n baie jong ouderdom begin. Foto verskaf

Wanneer sy oor die toekoms van die landbou in Suid-Afrika nadink, hoop De Kock dat boere mekaar meer sal ondersteun en help. “Ons is in ’n sektor waar dit verskriklik moeilik is,” sê sy. “As ons nie daar is vir mekaar om mekaar te ondersteun nie, dan het ons niks nie.” Haar visie vir die toekoms is dat boere in Suid-Afrika sal saamwerk en mekaar sal ophef, eerder as om in kompetisie te wees.

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.