Agriculture
Vroue in Landbou: Beefmaster se Lana sit mooi in vleisbedryf─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Fri, 30 Aug 2024

“Eens ’n huiwerige groentjie, tot vandag se onmisbare raakvatter. Dié Noord-Kaapse leier lewer ’n klinkklare bewys van ‘blom waar jy geplant is’ – en sy floreer!”
Lana van Reenen, die handelsmerk- en kommunikasiebestuurder van die Beefmaster-groep, se storie is een van toewyding, passie en kreatiwiteit. Hoewel sy vertel dat sy nooit van plan was om in landbou te werk nie, het haar reis in die rooivleisbedryf haar gelei na ’n plek waar sy met haar talente en vaardighede ’n kardinale rol vervul.
Beefmaster, met sy hoofkantoor in Kimberley, is ’n sleutelspeler in die vleisbedryf en betrokke by elke aspek van die waardeketting, van die boer tot die rak waar verbruikers hul vleis koop.
“Toe julle vir my sê julle wil met vroue en landbou gesels, is dit vir die eerste keer wat ek besef ‘ek is eintlik ’n vrou in die landbousektor’. Ek het nog nooit so daaroor gedink nie, want die werk wat ek gedoen het was nou al oor die hele spektrum wat ’n voerkraal, abattoir, en verwerking betref.
“Nou is ek is in ’n baie bevoorregte posisie om aan die kreatiewe kant van dit te wees – en die mooi van die bedryf aan ander oor te dra.”
Van Reenen het grootgeword op Prieska in die Noord-Kaap, waar haar pa, wat ’n onderwyser van beroep was, wel ook geboer het, en sy aan die sosiale samekoms van ‘beesslag en vleiswerk’ blootgestel is. “Ek wou egter glad nie aan die vleis vat nie.
“En my pa, wat ons streng grootgemaak het, het my selfs oorgesien en gesê ‘Lana, jy kan maar net die wors in die pakkies sit’,” vertel sy laggend. “So ek het glad nie gedink ek gaan in hierdie bedryf beland nie.”
Sy het altyd ’n passie vir die kreatiewe kunste gehad, met ’n spesifieke belangstelling in binne-ontwerp of mode-ontwerp. Toe sy by Beefmaster begin werk het, aanvanklik eers net om op ‘haar eie voete te staan’ en onafhanklik te wees, het sy egter geleentheid op geleentheid begin sien om haar talente uit te leef.
‘Jy kan regtig ’n verskil maak met wat vir jou natuurlik kom’
“Ek het so baie geleer en so baie gegroei; en ek is presies waar ek wil wees. Ek dink ek het ’n sagtheid en ’n elegantheid na die besigheid toe gebring.
“Jy hoef nie noodwendig in Milan se fashion shows ’n invloed te hê om ’n verskil te maak in die wêreld nie. Jy kan regtig ’n verskil maak met wat vir jou natuurlik kom in ’n omgewing waar dit eintlik glad nie ’n match is nie.”
Met ’n sterk fokus op haar werk en haar gesin, sien Van Reenen haarself as deel van ’n groter span wat saamwerk om die vleisbedryf te verbeter en te laat groei. “Bydrae gewys is dit nooit net een persoon wat ’n verskil maak nie. Jy's altyd ’n span,” verduidelik sy.
Op die vraag oor wat sy graag wil hê haar nalatenskap moet wees, antwoord sy dat haar loopbaan beskou sal word as een van integriteit en passie. “Almal is ingebou met ’n stel talente, wat dit ookal mag wees. Jy kan dit gebruik in die area waar jy jouself bevind.
“Jy as mens moet altyd standvastig, nederig en opreg wees, ongeag van die vlak van sukses wat jy mag behaal.”
‘Ek dink nie ons mense besef wat dit alles verg nie’
En die wat al met haar kennis gemaak het sal beaam dat Lana van Reenen wel so ’n ‘genuine’ mens is. Haar verhaal bied inspirasie vir ander in die landboubedryf, veral vir vroue wat hul plek in hierdie oorwegend manlike sektor wil vind.
Haar hoop vir die toekoms is dat produsente die nodige krediet sal ontvang vir die harde werk wat hulle elke dag insit. “Ek dink nie ons mense besef wat dit alles verg nie.
“Boere sit hulle hart en siel in met als wat hulle doen. En as daai vleisie op jou tafel is, is dit die laaste ding waaraan jy dink. Ek hoop ons kan daai strepie trek tussen die kos op die winkelrak en die goeie plek waar dit vandaan kom.”