Click on the warning image to view this post
Agriculture
Oos-Vrystaatse boere kort dringend ramphulp ná vernietigende brande─── 10:51 Sun, 29 Sep 2024
“Dit is onaanvaarbaar dat boere aan hul eie lot oorgelaat word in sulke noodsituasies.”
*Let wel: Daar is ‘n foto laer af in die berig wat lesers mag ontstel.
Boere in die Oos-Vrystaat het dringend hulp nodig ná die verwoestende wegholveldbrande van die afgelope week. Hierdie ramphulp is nou van kritieke belang om die ernstige skade aan weivelde en landerye te verlig.
Donderdag (26/9) het sterk winde aanleiding gegee tot minstens nege groot veldbrande wat duisende hektaar grond in die Memel-, Verkykerskop- en Vrede-gebiede verwoes het.
“Plaaslike boere het alles in hul vermoë gedoen om die vure onder beheer te bring, maar hul pogings is bemoeilik deur die gebrekkige brandbestrydingsdienste van die distriksmunisipaliteite,” vertel Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, in ’n verklaring.
“Die brande het duidelik uitgewys dat die distriksmunisipaliteite se brandbestrydingsdienste eenvoudig nie op standaard is om die nodige bystand te verleen nie. Dit is onaanvaarbaar dat boere aan hul eie lot oorgelaat word in sulke noodsituasies.”
Die VF Plus het onmiddellik met die Vrystaatse LUR vir landbou en omgewingsake, Elzabé Rockman, in gesprek getree. “Ons het versoek dat daar so gou as moontlik ramphulp aan boere verskaf word om die groot verliese wat hulle gely het te verlig,” het Van Niekerk bygevoeg.
Hy het ook aangedui dat die party die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Saki Mokoena, sal versoek om die gebied as ’n rampgebied te verklaar.
Vee wat in die brand omgekom het. Foto verskaf
Van Niekerk het verder verduidelik dat die brande gekom het ná ‘n tydperk van intense koue en sneeuval, wat die situasie vir boere nóg moeiliker gemaak het. “Dit is nou ’n dubbele slag vir die boere in die gebied, wat nie net veldbrande moes trotseer nie, maar ook die gevolge van erge weerstoestande.”
Hy het beklemtoon dat die VF Plus ook in die Vrystaatse wetgewer se portefeuljekomitee sal vra dat ondersoek ingestel word na die tekortkominge in distriksmunisipaliteite se rampbestuurplanne.
‘Nodige ramphulp nou dringend noodsaaklik’
“Die tekortkominge in die brandbestrydingsdienste moet aangespreek word om te verseker dat sulke tragedies in die toekoms voorkom kan word.”
Die VF Plus het sy simpatie uitgespreek met diegene wat lewensverlies gely het, asook dié wie se huise, vee en toerusting in die brande vernietig is. “Dit is nou dringend noodsaaklik dat die provinsiale regering die nodige ramphulp aan boere verskaf. Hulle kan nie langer aan hul eie lot oorgelaat word nie.”
OFM Agri cg