On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Sindikate in tronkselle steel miljoene se vee

───   08:58 Wed, 20 Nov 2024

Sindikate in tronkselle steel miljoene se vee  | News Article
Foto: Getty Images

Veediefstal in die Vrystaat is aan die toeneem en het die afgelope jare uitgekring tot ’n goed georganiseerde misdaadnetwerk.

Volgens statistiek van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) beloop die verliese weens veediefstal in die provinsie sowat R10 miljoen per maand.

Hans Annandale, voorsitter van die RPO se veediefstal-voorkomingsforum in die Vrystaat, sê die sindikate agter hierdie misdade is uiters gesofistikeerd. Wat nog meer skokkend is, is dat die beplanning van hierdie misdaad soms direk vanuit die tronk geskied.

“Hierdie ouens werk soos ’n goed geoliede masjien. Hulle gebruik werkers om vee op te spoor en bymekaar te maak op strategiese plekke. Wanneer die tyd reg is, word die vee gelaai of selfs direk in die veld geslag.”

Annandale voeg by dis bloot die ‘werkers’ wat gevang word, en nie die werklike meesterbreins nie. “Hulle sit dikwels agter tralies, maar bly steeds misdaad organiseer.”

Hierdie geslepe misdadigers huiwer ook nie om geweld te gebruik indien hulle uitgedaag word nie. “Wanneer produsente of werkers probeer terugveg, word hulle geïntimideer of selfs fisies aangeval. In sommige gevalle word plaaswerkers geteiken of hul kinders ontvoer. Sindikate sal selfs plase afbrand as wraak.”

Netwerke verskuif ook vinnig hul bedrywighede na ander areas wanneer daar druk deur die polisie toegepas word. “Hulle bly een stap voor, wat die stryd teen hierdie misdaad baie uitdagend maak.”

‘Dit is noodsaaklik om sake aan te meld’

Annandale doen ’n beroep op produsente om elke geval van veediefstal steeds aan te meld, hoe gering ook al. “Ons verstaan dat produsente moedeloos geraak het omdat daar soms min resultate is, maar dit is noodsaaklik om sake aan te meld. Dit help om statistieke te versamel en die fokus van veediefstal-eenhede in spesifieke areas te behou.”

Hy benadruk ook die belangrikheid van die regte identifikasiemaatreëls vir vee. “Beeste moet gebrandmerk of getatoeëer wees, aangesien oorplaatjies maklik vervals kan word. Die RPO is beskikbaar om boere te help met die registrasie van brandmerke.”

Met die feestyd om die draai, waarsku Annandale dat hierdie misdaad moontlik kan toeneem. Die polisie het egter onlangs beloof om ’n sterker teenwoordigheid in die streek te handhaaf en meer gereelde optredes van stapel te stuur.

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.