Agriculture
OVK: 2024 jaar van deursettingsvermoë─── ELZETTE BOUCHER 12:47 Mon, 16 Dec 2024
Die afgelope jaar was ’n uitdagende, dog insiggewende tyd vir die Suid-Afrikaanse landbousektor.
Stefan Oberholzer, besturende direkteur van OVK, het met OFM Agri gepraat oor die struikelblokke en hoogtepunte wat produsente en die bedryf in 2024 beleef het.
Volgens Oberholzer was die jaar se uitdagings veelvoudig en ingrypend. Hy noem veral die impak van die droogte en ongewone hittegolwe in Februarie en Maart wat groot skade aan oeste veroorsaak het. “Die droogte het produsente swaar getref en die wisselvalligheid van die rand, aangevuur deur die onsekerheid rondom die verkiesing, het die situasie verder bemoeilik.”
Hy wys ook op die daling in vee- en veselpryse wat veeboere finansieel geknou het. “Hoë rentekoerse, stygende brandstofpryse en algehele ekonomiese druk het koopkrag negatief beïnvloed wat die breër publiek en landbousektor ernstig geraak het.”
Een van die grootste strukturele uitdagings bly egter die verval van infrastruktuur op plattelandse gebiede. “Plaaslike regeringsvlak bly ’n probleem wat ons produsente regdeur die land kniehalter.”
Te midde van hierdie uitdagings was daar ook ligpunte. Oberholzer wys op die afwesigheid van beurtkrag in die afgelope paar maande as ’n noemenswaardige ontwikkeling. “Dit het ongelooflike stabiliteit en sekerheid gebring vir die hele land.”
Verder het die regering van nasionale eenheid bygedra tot ekonomiese stabiliteit met die rand wat versterk het en brandstofpryse wat gevolglik gedaal het. “Die hoë graanpryse het in ’n mate vergoed vir die swak opbrengste wat ’n welkome verligting was vir produsente.”
Vir Oberholzer bly die deursettingsvermoë van Suid-Afrikaanse landbouers egter die mees inspirerende aspek. “Maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie, ons produsente vind altyd ’n manier om deur te druk. Dit is iets wat werklik hoop gee vir die toekoms.”
Hy deel verder ’n spesiale boodskap aan OVK-kliënte, personeel en alle landbouers. “Ek wil graag elke landbouer herinner aan hoe spesiaal hulle is en dat hulle onmisbaar is vir Suid-Afrika en sy mense. Ons wens vir almal ’n veilige reis en ’n geseënde Kerstyd toe. Mag ons almal onthou dat ons Hemelse Vader sy Seun gestuur het om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Dit is die kern van hierdie feestyd.”
OFM Agri dg
