On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA: Haarfyn beplanning sal landbouers steun deur ‘uitdagende’ 2025

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Tue, 07 Jan 2025

Graan SA: Haarfyn beplanning sal landbouers steun deur ‘uitdagende’ 2025 | News Article
Graan SA beplan om in 2025 op verskeie strategiese gebiede te fokus. FOTO: iStock

Dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, het sy vooruitsigte vir 2025 gedeel, saam met ’n boodskap van moed en vasberadenheid aan Suid-Afrikaanse landbouers.

Dr. Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, het sy vooruitsigte vir 2025 gedeel, saam met ’n boodskap van moed en vasberadenheid aan Suid-Afrikaanse landbouers. Volgens Doyer is die grootste uitdaging vir die landbousektor steeds die druk op die internasionale ekonomie. 

Hy verduidelik: “Hoe beter dit met die internasionale ekonomie gaan, hoe beter gaan dit met landbou. Maar as internasionale handel beperkings ondervind, kan dit ernstige negatiewe gevolge vir ons boere hê. Die vraag na voedsel is immers ’n afgeleide van ekonomiese welstand.”

Fokusareas vir 2025

Doyer beklemtoon dat Graan SA in 2025 op verskeie strategiese gebiede sal fokus:

- Koringbedryf: Die organisasie is besig met ’n hersiening van die balans tussen kwaliteit en kwantiteit in die produksie van koring. “Ons moet kyk na die volhoubaarheid van die ooreenkoms met meulenaars wat hoë kwaliteit koring vereis, maar produsente nie noodwendig daarvoor vergoed nie. Daar is ook druk om tariefbeskermings te hersien, aangesien internasionale subsidies ons boere benadeel,” verduidelik hy.

- Tegnologie: Graan SA sal voortgaan om te pleit vir vinnige toegang tot wêreldklastegnologie. Doyer meen dat tegnologie die sleutel tot mededingendheid en oorlewing is: “Ons moet seker maak ons boere het toegang tot die beste oplossings, van regulatoriese prosesse tot goedkeurings.”

- Omgewingsvolhoubaarheid: Doyer beklemtoon dat boere reeds verantwoordelik met hulpbronne werk. “Ons moet die verkeerde persepsies rondom boerdery en omgewingsimpakte regstel. Dit is noodsaaklik om produsente reg te posisioneer in terme van omgewing-, sosiale- en bestuursvereistes (ESG),” sê hy.

 

Vooruitsigte en boodskap vir die nuwe jaar

Die uitdagings van lae internasionale pryse en die koste van produksie bly prominent. “Landbouers sal hul begrotings en besluite versigtig moet beplan, met ’n fokus op koste-effektiewe tegnologie,” waarsku Doyer.

Hy sluit af met ’n boodskap van hoop: “Soos die Springbokke, moet ons vasbyt en deurdruk. Met beplanning en harde werk kan ons steeds presteer. Ek wens elke landbouer sterkte toe vir die jaar wat voorlê.”

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.