On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Wêreldklas-skaapskeerders aangewys op Bloemskou

───   12:21 Fri, 02 May 2025

Wêreldklas-skaapskeerders aangewys op Bloemskou | News Article
Nasionale Skaapskeerkampioenskap op Bloemskou. Foto: T24 Shearing/Facebook

Die paviljoene was stampvol en die skape glad geskeer tydens vanjaar se uiters medingende Nasionale Skaapskeerkampioenskap op Bloemskou.

Ondanks uitdagende weersomstandighede en swaar reën vroeër die week is die kompetisie suksesvol afgehandel toe Suid-Afrika se beste skeerders hul staal getoon het.

Volgens Isak Klopper van die Nasionale Wolkwekersvereniging was dit een van die beste kampioenskappe in jare. “Ons het tot … voor middernag geskeer, maar die gees en gehalte van werk was uitstekend.”

Die groot nuus van die dag was die aankondiging van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Skaapskeer-wêreldkampioenskap in Masterton, Nieu-Seeland, in Maart volgende jaar sal deelneem. Dié span sluit van die land se topskeerders in, onder wie Bonile Rabela en Mayenseke Shweni, (handskeerders), asook masjienskeerders Hans van Schalkwyk en Dumisani Xhasa van DG Snyman Skeerdienste.

Janko Botha, ook van DG Snyman Skeerdienste, en Lungani Maqakalana, skeerinstrukteur van die NWKV, het onderskeidelik die eerste en tweede plekke behaal wolhanteerders en is ook in die span ingesluit.

Van Schalkwyk, wat van Philippolis afkomstig is, het ’n uitmuntende vertoning gelewer tydens die kampioenskap. Hy sê die kompetisie was taai, maar die kwaliteit van die skape het dit ’n “lekker dag” gemaak. “Ons moes twaalf skape in minder as nege minute skeer in die ope finaal – dis ongelooflik vinnig. My tyd was sterk, en ek dink ek het heel goed gevaar.”

Volgens hom is dit nie net spoed wat tel nie, maar ook netheid. “Elke 20 sekondes tel as ’n punt, maar as jy mors of lyne op die skaap los, verloor jy op netheid. Jy moet vinnig en akkuraat wees; dis hoe jy wen."

Die wêreldkampioenskap vereis dat skeerders gemiddeld onder 40 sekondes per skaap skeer. Daarom is spesiaal gekeurde Afrino-skaap met oop wol gebruik tydens die nasionale rondes om skeerders optimale geleenthede te bied om hul vaardighede ten toon te stel.

OFM Agri/Johan Gunter

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.