On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Identifikasie, naspeurbaarheid bly sleutel tot rooivleisuitvoer, diefstalbeheer

───   05:00 Sun, 04 May 2025

Identifikasie, naspeurbaarheid bly sleutel tot rooivleisuitvoer, diefstalbeheer | News Article
John Steenhuisen by die Bloemskou. Foto: John Steenhuisen/Facebook.

Suid-Afrika se rooivleisbedryf sal nie mededingend bly op die internasionale mark sonder ’n naspeurbaarheidstelsel nie.

Só sê John Steenhuisen, die minister van landbou wat onlangs die Bloemskou besoek het. Hy vertel die departement werk saam met die Red Meat Industry Services (RMIS) aan ’n raamwerk wat die hele waardeketting kan akkommodeer – van kleinskaalse produsente tot kommersiële boere.

“Die wêreld beweeg in die rigting van volledige naspeurbaarheid. Verbruikers wil weet waar diere vandaan kom, waarmee hulle gevoer is, watter medikasie gebruik is, en waar hulle geslag is.”

Hoewel sommige produsente skepties is, waarsku die minister dat produsente wat nie aanpas nie, markaandeel sal verloor aan dié wat wel internasionale vereistes nakom. Hy het ook gepoog om bekommernisse te besweer oor sogenaamde buitelandse agendas: “Ek gee geen data aan Bill Gates of George Soros nie. Hierdie inisiatief gaan nie oor wêreldbeheer nie – dit gaan oor marktoegang en voedselsekerheid.”

Benewens uitvoervereistes, beklemtoon Steenhuisen die voordele van naspeurbaarheid vir die hantering van bek-en-klouseer en die bekamping van veediefstal. “Geen dier sal in die toekoms ’n abattoir of veiling betree sonder dat daar bewys is wie die eienaar is nie. Dit gaan dit baie moeiliker maak vir gesteelde diere om in die stelsel in te glip.”

Hy het erken dat koste ’n uitdaging is vir opkomende produsente, maar beklemtoon dat die stelsel buigsaam ontwerp word. “ ’n Tradisionele boer kan dalk nie vir ’n ‘RFID-tag’ betaal nie, maar ’n goedkoper opsie moet steeds aan die sentrale databasis gekoppel kan word.”

Volgens hom is daar reeds vordering met die stelsel, maar volle deelname van die sektor sal noodsaaklik wees. “Markdruk gaan uiteindelik boere dwing om aan te pas. Ons kan nie agterbly terwyl die wêreld vorentoe beweeg nie.”

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.