Agriculture
Beheermaatreëls opgeskerp ná bek-en-klouseer verder versprei─── 19:17 Sat, 10 May 2025

Die departement van landbou maan alle veeboere regoor die land om dierebewegings so ver moontlik te beperk en om waaksaam te wees wanneer diere van provinsies met aktiewe bek-en-klouseer-uitbrekings, aangekoop word.
Nuwe gevalle van bek-en-klouseer bevestig
Die departement het bevestig dat twee nuwe gevalle van bek-en-klouseer buite KwaZulu-Natal geïdentifiseer is. Een van die gevalle is op ’n plaas in Mpumalanga opgespoor as deel van opsporingsondersoeke ná ’n besmette veiling in Utrecht. Hoewel die diere geen kliniese simptome van die siekte getoon het nie, het verdere ondersoeke bevestig dat die virus na aangrensende kampe op dieselfde plaas versprei het.
’n Tweede geval is in Gauteng bevestig nadat diere wat van ’n veiling in Heidelberg afkomstig was, tekens van die siekte in voerkrale getoon het. Monsters is versamel en prioriteitstoetse het bevestig dat dit dieselfde virus is wat tans in dele van Natal sirkuleer. ’n Epidemiologiese ondersoek word gedoen om alle diere wat tydens dieselfde veiling gekoop en verkoop is, op te spoor.
China skort invoer op
Intussen het die nuwe uitbrekings daartoe gelei dat China die invoer van gesplete hoefdiere en verwante produkte uit Suid-Afrika opgeskort het. Voorlopige inligting dui daarop dat hierdie opskorting tans net beesvleis van regoor Suid-Afrika insluit.
Strenger beheermaatreëls
Minister John Steenhuisen het beheermaatreëls opgeskerp en die saak na die kantoor van die adjunk-direkteur-generaal verwys weens die ernstige aard van die situasie. Daar is reeds vergaderings met die staatsveeartsenydienste en bedryfsverteenwoordigers gehou om die nodige stappe te bespreek om die bedreiging te beperk. Biosekuriteit, naspeurbaarheid en rekordhouding van diere wat op veilings verkoop word, is as spesifieke bekommernisse uitgelig.
Waarskuwing aan vee-eienaars
Die departement herinner vee-eienaars daaraan dat die inkubasietydperk van bek-en-klouseer tussen 2 en 14 dae is. Gedurende hierdie tyd kan diere klinies gesond lyk voordat hulle simptome van die siekte begin toon. Daarom moet nuwe aankope vir minstens 28 dae van bestaande kuddes geskei word, selfs al het hulle gesondheidsertifikate.
Wetlike vereistes vir verslagdoening
Bek-en-klouseer is ’n beheerde dieregesondheidstoestand kragtens die Wet op Dieregesondheid, 1984 (Wet No 35 van 1984). Enige verdagte kliniese simptome soos oormatige speeksel, blase in die mond, hink of hoefletsels moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Hierdie diere mag onder geen omstandighede verskuif word nie.
OFM Agri cg