On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

‘Op jou merke, gereed, NAMPO!’

───   08:53 Mon, 12 May 2025

‘Op jou merke, gereed, NAMPO!’ | News Article
NAMPO Park se terrein bruis van energieke, opgewonde uitstallers wat alles gereed kry vir die opening. Foto: Graan SA

Ná oorvloedige reën die afgelope tyd het die son Maandagoggend sy eerste strale oor die goue velde van die Vrystaat geskyn op vooruitsigte van die suidelike halfrond se grootste landbouviering – Graan SA se NAMPO Oesdag 2025!

Die terrein bruis van energieke, opgewonde uitstallers wat alles gereed kry vir die opening. Die 57ste NAMPO Oesdag beloof om Suid-Afrikaanse landbou na nuwe hoogtes te neem met die tema: “Globale Landbou, Plaaslik!” 

Van 13 tot 16 Mei word NAMPO Park by Bothaville weer die spilpunt van landbou-innovasie, netwerkgeleenthede en tegnologiese vooruitgang.

Jou bestemming dié week: S27° 13’ 36”, E26° 41’ 00”

Verwag ’n vertoonvenster van die nuutste tegnologie, insiggewende demonstrasies en die hartklop van die boeregemeenskap – alles onder die uitgestrekte blou lug van die Vrystaat. 

Of jy nou hier is vir die trekkers, die praatjies of die smaak van ware Suid-Afrikaanse gasvryheid, NAMPO 2025 belowe nog ’n onvergeetlike hoofstuk in landbou-uitnemendheid.

Wat is nuut by NAMPO 2025?

  • Uitgebreide akkommodasie: ’n Nuwe karavaanpark met 100 staanplekke en twee ablusieblokke, is beskikbaar by Hek 2.
  • Verbeterde kosaanbiedinge: Die Syngenta Boerekos Plaaskombuis bied restaurant-gehalte disse met topgehalte vleis en varsgebakte platbrode.
  • Graan SA Museum: ’n Nuwe museum, opgerig deur Santam, belig die ryk geskiedenis van Graan SA en NAMPO.
  • ALPHA Insure Vroueprogram: ’n Inspirerende program met musiek, motiveringspraatjies en kookdemonstrasies deur bekende sjefs.
  • NAMPO Toep: Die verbeterde toepassing maak dit makliker om die terrein te navigeer en byna 900 uitstallers te verken.
  • KamersMakers-mark: Nuwe toevoeging met handgemaakte kuns, leefstylprodukte en plaaslike vakmanskap.

Ou gunstelinge keer terug

Bekende trekpleisters soos die Standard Bank 4x4-baan, Nasie in Gesprek, en die TAU Veevoer Vee-arena is weer van die hoogtepunte. Besoekers kan ook uitsien na demonstrasies van die nuutste saad- en voerproduksiepraktyke.

Maklike toegang en pendeldienste

Vir besoekers is daar verskeie vervoeropsies beskikbaar, insluitend die Mieliehop-pendeldiens en ’n lughawe-sitkamer met pendeldiens na NAMPO Park.

Koop jou kaartjies aanlyn!

Kaartjies vir NAMPO 2025 is vanaf April aanlyn beskikbaar by OpenTickets. Hekke is daagliks oop van 07:00 tot 17:00. Besoekers word versoek om die NAMPO-webwerf of toepassing (Google en iOS) vir verdere besonderhede te raadpleeg.

Handige wenke

  1. Gaan vroeg
    Die rustige plaaslewe van Bothaville verander drasties tydens NAMPO. Met meer as 80?000 besoekers oor vier dae, kan jy maklik vasval in lang toue. Om verkeersknope en parkeernagmerries te vermy, beplan om vroeg te arriveer – en onthou waar jy parkeer het!
  2. Dra sonskerm en ’n hoed
    Jy gaan die meeste van die dag buite spandeer. Maak seker jy dra sonskerm, ’n hoed en bring selfs ’n reënjas of sambreel indien reën voorspel word.
  3. Dink aan gemaklike skoene
    Die terrein is groot, uitgestrek en op plekke stofferig. Jy gaan baie loop – dra dus gemaklike skoene.
  4. Eetgoed, verversings en meer
    Van vetkoek, jaffels en boerie rolls tot tuisgemaakte lekkernye – jy sal nie honger wees nie! Vir vinnige etes is daar meer as 22 kosstalletjies, sowel as ’n teetuin en bierarea vir ’n stofferige keel.
  5. Wees bewus van padtoestande
    Sekere paaie is in goeie toestand (soos Orkney na Bothaville), terwyl ander slaggate of padwerke het. Wees versigtig veral op grondpaaie ná reën. Maak seker jy beplan jou roete vooraf.
  6. Lugverkeer
    Daar is 'n aanloopbaan vir ligte vliegtuie, maar dis nie geregistreer nie en word op eie risiko gebruik. Lugverkeer is beduidend tydens die gebeurtenis.

Moenie dié stalletjies misloop nie

  • OFM saai regstreeks uit vanaf NAMPO Park met die jongste nuus, verkeersopdaterings en spesiale programme oor die vier dae. Die OFM CLOSET winkel sal ook daar wees! Vind OFM oorkant die NAMPO Saal.
  • Meganisasiestalletjies met die nuutste landboutoerusting in aksie
  • Lewendehawe-uitstallings met bees-, skaap-, bok- en perd-rasse
  • Saadpersele naby die Caltex-saal
  • 4×4 demonstrasies, Engen trekker-museum, en KamersMakers kuns en dekor
  • Graan SA se museum en die Alpha Insure Vroueprogram
  • Volg die volledige program
  • Volledige inligting vir eerste besoekers


NAMPO 2025 beloof om ’n baanbrekersgeleentheid te wees waar globale vooruitgang en plaaslike landbou suksesvol integreer. 

Laat die dag nie verbygaan sonder om iets nuuts te leer of te ontdek nie. Ervaar NAMPO 2015 ten volle – voor die son sak oor dié dinamiese landbouwêreld!

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.