Agriculture
Gewone mense kan nou met een tikkie tot landelike veiligheid bydra─── 09:29 Thu, 15 May 2025

’n Slim, innoverende manier om te gee, om gewone mense te bemagtig om ’n betekenisvolle verskil in Suid-Afrika se landbougemeenskappe te maak, is vanjaar op NAMPO Oesdag bekend gestel.
Die nuwe fondsinsamelingsprojek Tap4Impact, ten bate van Agri Securitas, is Woensdag (14/5) amptelik op NAMPO Park bekendgestel.
Hierdie inisiatief bied Jan Alleman die geleentheid om aktief betrokke te raak by landelike veiligheid met die gebruik van toeganklike tegnologie soos mobiele betalings. Die konsep is eenvoudig: Indien jy ’n impak wil maak, tik jy met jou kredietkaart of selfoon op die Tap4Impact-skerm.
En dis meer as net ’n fondsinsamelingsprojek – dis ’n platform vir gemeenskapsbetrokkenheid en jeugbemagtiging. Deur bloot te tik of “tap”, dra mense by tot ’n veiliger toekoms vir almal op die platteland.
Cobus van Zyl, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds. Foto: Elzette Boucher-Kruger
“Die gedagte is dat ons die sekuriteitskwessies van ons landelike gebiede na die stad toe neem en vir mense wat nie noodwendig weet wat ons uitdagings is nie, die geleentheid gee om ook ’n bydrae te lewer tot ons landelike gebiede se veiligheid,” sê Cobus van Zyl, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.
“Met dié tegnologie kan mense ’n fisiese donasie maak en behalwe vir ’n klein administratiewe koste, gaan al daardie geld net so deurvloei na ons plaaslike boereverenigingstrukture.
“Dit sal aangewend word om veiligheid in die landelike gebiede te verbeter – nie net vir boere spesifiek nie, ook vir die werkers en mense wat in ons klein plattelandse dorpe bly. Ons wil graag hê dat ons landelike gebiede vooruitgaan, maar ons kan dit nie doen as ons elke dag onveilig is waar ons bly nie.”
Sanmarie Schlebusch, die besturende direkteur van Idalia Holdings, sê die doel van die projek is om groter bewustheid te skep oor sekuriteitskwessies in landelike gebiede en terselfdertyd mense in staat te stel om op 'n eenvoudige manier ’n bydrae te kan lewer.
“Dit is ’n ongelooflike voorreg om die Agri Securitas se Tap4Impact by die NAMPO Oesdag van stapel te kan stuur. My hart loop oor. Aan ons hoofborge John Deere en We Buy Cars, ’n ongelooflike groot dankie dat julle dit moontlik gemaak het dat ons met dié projek op ’n maklike manier mense die geleentheid kan bied om te kan Tap4Impact.
“Ons het besluit as ’n mens ’n ding anders doen, moet jy dit 100% anders doen. So, ons gaan nou dié projek na sportgeleenthede in groot stadions in die stede neem en by verskillende projekte en skole uitrol waar ons mense gaan leer en daarvan deel gaan maak om eienaarskap te neem. Dan is hierdie projek vir die mense deur die mense.
“Daar is ’n QR-kode wat jy kan skandeer om te sien presies watse projekte befonds word en waarnatoe jou geld gaan – dis 100% deursigtig.”
Individue en gemeenskappe word aangemoedig en bemagtig om met ’n tikkie op ’n skerm, veiliger landbou-omgewings en voedselsekerheid regdeur Suid-Afrika te verseker.
OFM Agri mvh