Agriculture
Piesanggesprekke tussen Tanzanië, Suid-Afrika in volle gang─── 21:29 Thu, 15 May 2025

Die Suid-Afrikaanse departement van landbou wil verwarring uit die weg ruim ná mediaberigte wat op ’n moontlike invoerverbod op Suid-Afrikaanse landbouprodukte deur Tanzanië dui.
Hierdie bewerings spruit glo uit die wanpersepsie dat Suid-Afrika nie die invoer van piesangs uit Tanzanië toelaat nie.
In ’n amptelike verklaring het die departement bevestig dat daar geen verbod op die invoer van piesangs uit Tanzanië is nie en beklemtoon dat landbouhandelbetrekkinge tussen die twee lande steeds sterk is.
Volgens die departement is Tanzaniese avokado’s reeds die afgelope vier jaar suksesvol na Suid-Afrika uitgevoer, maar Tanzanië het eers in Februarie 2025 ’n formele versoek ingedien om piesangs na Suid-Afrika uit te voer.
THIS UNDERSCORES THE POINT I MADE LAST MONTH THAT TANZANIA NEVER REQUESTED MARKET ACCESS FOR ITS BANANAS https://t.co/yrCLY6iUqh
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) May 15, 2025
Die Nasionale Organisasie vir Plantbeskerming van Suid-Afrika is tans besig met ’n risiko-ontleding van plae, wat deel vorm van die standaard wetenskaplike proses om fitosanitêre invoervoorwaardes te bepaal. Hierdie proses is noodsaaklik om die veilige handel in piesangs te verseker en om albei lande se landbousektore teen bedreigings soos verwoestende piesangsiektes te beskerm.
Amptenare het beklemtoon dat die invoer van piesangs uit Tanzanië slegs sal begin sodra dié proses afgehandel is en daar ooreenstemming tussen die twee lande oor die fitosanitêre vereistes bereik is, in ooreenstemming met internasionale standaarde van die Internasionale Konvensie vir Plantbeskerming en die Wêreldhandelsorganisasie.
Die departement het verder verduidelik dat geen amptelike verbod ooit op Tanzaniese piesangs geplaas is nie, aangesien marktoegang nog nie toegestaan is nie. Net so het Suid-Afrika geen formele kennisgewing van ’n verbod op Suid-Afrikaanse landbouprodukte vanaf Tanzanië ontvang nie.
OFM Agri cg