On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Krag, presisie en produktiwiteit in nuwe John Deere 9RX 830

───   05:00 Thu, 22 May 2025

Krag, presisie en produktiwiteit in nuwe John Deere 9RX 830  | News Article
John Deere se Hein Snyman by die 9RX 830. Foto: OFM

John Deere het tydens die onlangse Graan SA NAMPO Oesdag die jongste toevoeging tot hul stal van hoëkragslimtrekkers aan die publiek bekend gestel.

Hul mees gevorderde trekker nog – die 9RX 830 is ’n majestueuse masjien, ontwerp om sy merk te maak en aan die uitdagings van grootskaalse landbouproduksie in korter tydsvensters te voldoen.

“Ons is baie opgewonde om die nuwe 9RX-reeks aan die mark bekend te stel – en veral die 830-model, wat produktiwiteit en werkverrigting op ’n nuwe vlak bring,” vertel Hein Snyman, streeksproduksiespesialis by John Deere op NAMPO Park buite Bothaville.

Vir wie is die 9RX 830?

Die trekker is gemik op produsente wat met groter implemente werk en hul grondbewerking en saaiwerk vinnig en doeltreffend moet uitvoer. “Die tydsvensters vir plant en bewerking het al hoe korter geword. 

“Ons boere het nie meer die luuksheid van drie maande nie – hulle het dalk drie weke. Hierdie trekker is gebou om daardie druk te hanteer,” sê Snyman.

Wat dryf die 9RX?

Die 9RX 830 is toegerus met ’n splinternuwe JD18-enjin – ’n 18-liter sessilinder-dieselenjin, spesiaal ontwerp deur John Deere vir landboutoepassings. Hierdie enjin lewer tot 830 nominale perdekrag, met ’n maksimum van 913 pk. 

Die trekker gebruik ’n e21™ PowerShift-transmissie met 21 vorentoe- en 11 truratte, wat optimale beheer en ratwisseling onder verskillende veldtoestande verseker.

Rusperkrag met minimale kompaksie

Met vier rusperbande bied die 9RX 830 nie net verbeterde drywing op die grond nie, maar ook verhoogde flotering, wat grondkompaksie verminder – ideaal vir produsente wat produktiwiteit wil verhoog sonder om hul grondgesondheid in te boet.

Slim tegnologie, winsgewende boerdery

Die 9RX 830 is volledig geïntegreer met John Deere se presisieboerdery-tegnologie, insluitend die G5Plus CommandCenter™-koppelvlak en JDLink™-konnektiwiteit. Dit stel produsente in staat om operasionele data in te samel, te analiseer en te benut – van plant tot oes. 

“Dis nie net oor wat op die trekker sit nie, maar wat jy met die data kan doen. Ons wil produsente help om slimmer besluite te neem en meer winsgewend te wees,” sê Snyman.

Die trekker is ook beskikbaar met ’n outonomie-gereed pakket, wat toekomstige opgraderings na volledig outonome werking moontlik maak.

Hoë verwagtinge, sterk belangstelling

Snyman sê die terugvoer tydens NAMPO was positief. 

“Kliënte is regtig opgewonde. Ons gaan die trekker in verskeie praktiese toetse plaas, en wys wat hy in die veld kan doen.”

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.