On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Boerepatent Bossieblixem betaal vir kinders se universiteit

───   08:29 Thu, 22 May 2025

Boerepatent Bossieblixem betaal vir kinders se universiteit | News Article
Michris Janse van Rensburg op NAMPO Oesdag. Foto verskaf

As dit nie vir die Bossieblixem was nie, het sy twee kinders dalk nooit die voorreg gehad om universiteit toe te gaan nie.

Michris Janse van Rensburg (51), ’n boer en uitvinder van Bultfontein in die Vrystaat, se nuutste uitvindsel is so groot in statuur dat selfs boere van Botswana met dié kompakte boerepatent huiswaarts keer.


“Daar is ’n algemene wanopvatting dat kleinskaalse boere in die geld rol. As jy boonop jou kinders universiteit toe wil stuur, moet jy ’n plan maak,’’ merk hy droogweg op. “In dié stadium betaal ek my kinders se studie met die winste wat ek uit die Bossieblixem maak. En dis nog nie so lank beskikbaar nie.’’

’n Bossiesnyer (ook ’n bossiesaag, uitklaringsaag of petrolbok) is ’n aangedrewe tuin- of landboutoestel wat gebruik word om onkruid, klein bome en ander plantegroei te sny waar ’n grassnyer nie kan bykom nie.


“Verskeie lemme of snykoppe kan aan die masjien geheg word vir spesifieke toepassings, maar dit verg konstante vervanging van nylondrade. Met my uitvindsel hoef jy nooit weer nylondraad te vervang nie,’’ vertel hy.

Dié toestel, wat nie eens so lank soos twee liniale is nie, kan maklik aan die bossiesnyer geheg word, en nog voordat jy die woord “oesseisoen’’ kan sê, sny dit deur enige hardnekkige onkruid.

En die beste deel: Dit kos net R300.

Die Bossieblixem is deel van sy landboutoerustingreeks, BackSaver, wat sakpashandgedrewe toestelle insluit om die las op kleinskaalboere te verlig. Foto: Facebook

Janse van Rensburg het aan vanjaar se boerepatentekompetisie op NAMPO Oesdag by Bothaville deelgeneem, maar dié keer het hy tweede gekom.

Nico Jacobsz se outomatiese skaapvanghok het in die kategorie vir nuwe landboutoerusting gewen, terwyl Rynhardt en Dolf Erasmus in die kommersiële kategorie met hul Anaconda-boorgatlugpomp gewen het. “Maar die beoordelaars het die Bossieblixem gekoop,” glimlag hy.

Die tema vir vanjaar se NAMPO was sterk op tegnologie in die boerdery toegespits, iets wat Janse van Rensburg se daaglikse werk en passie verteenwoordig. Hy praat nie net oor landboutegnologie nie; hy lééf dit.

Janse van Rensburg se toerusting bied broodnodige akkuraatheid en spoed wat kleinskaalse boere se oesopbrengste aansienlik verhoog. Foto: Facebook

Janse van Rensburg is wyd berese, en tydens sy reise na van die mees afgeleë dele van Afrika het hy besef dat die jeug nie meer in boerdery belangstel nie.

Hy het gewonder oor hoe ’n mens vandag se jeug weer aan die boer kry. Die antwoord: deur tegnologie.

“Met ’n selfoon kan enige kleinskaalse boer toegang hê tot ’n groeiende verskeidenheid kragtige digitale hulpmiddels. Maar,” merk Janse van Rensburg op, “daardie selfde boere moet steeds hul rûe breek om saad met hul vingers in die grond te druk – kilometers en kilometers se rye.”

Michris Janse van Rensburg weet van boereplanne maak. Hier is hy tydens die NAMPO Oesdag in Bothaville by ’n boer van Botswana. Foto verskaf

Met hierdie probleem in gedagte, en met ’n boer se praktiese benadering, het Janse van Rensburg aan die werk gespring en bekostigbare kleinskaalse toerusting, soos hand-oesers, ontwerp.

“Dit het broodnodige akkuraatheid en spoed na kleinskaalse boere gebring wat hul oesopbrengste aansienlik verhoog het,” sê hy.

Sodra sy kinders hul studie voltooi het, beplan hy om die wins van die Bossieblixem te gebruik om ander studente in die nood te help. “Dis my plan met die Bossieblixem: om vir toekomstige generasies se opvoeding te betaal.’’

OFM Nuus/Yolanda Lemmer cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.