On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Verseker volhoubaarheid: Santam se Emil Pretorius oor risiko, dekking en hoop

───   06:00 Fri, 23 May 2025

Verseker volhoubaarheid: Santam se Emil Pretorius oor risiko, dekking en hoop | News Article
Emil Pretorius van Santam het met OFM Agri tydens vanjaar se Graan SA NAMPO Oesdag by hul standplaas op NAMPO Park gesels. Foto: OFM

Tussen toenemende klimaatsonsekerheid, rampspoedige storms en ’n stygende misdaadlas in landelike gebiede, is dit nie langer ’n vraag óf boere moet verseker nie, maar hóé om dit reg te doen.

Emil Pretorius van Santam het met OFM Agri tydens vanjaar se Graan SA NAMPO Oesdag by hul standplaas op NAMPO Park gesels.

“Versekering is nie ’n luukse nie, dis ’n noodsaaklikheid – die fondasie waarop volhoubare boerdery rus. Ek sê altyd: versekering begin met die letter V, net soos volhoubaarheid. En dít is nie toeval nie.”

’n Historiese verbintenis met landbou

Santam, wat vanjaar 107 jaar oud is, het sy eerste polis in sy geskiedenis vir ’n landboukliënt uitgereik. Hierdie historiese verbintenis met die sektor is steeds in plek – en volgens Pretorius sterker as ooit.

“In die afgelope jaar het ons alleenlik op landboubate-versekering R118 miljoen aan skade deur weer en water uitbetaal. Weerlig het R98 miljoen beloop, en brande net minder op R97 miljoen. Dit wys jou hoe reëel en tasbaar hierdie risiko’s is – en hoe nodig dit is om voorbereid te wees.”

Verder het Santam landwyd in 2023/24 ’n rekordbedrag van R29,8 miljard aan kliënte-eise uitbetaal – ’n duidelike aanduiding van die omvang van hul betrokkenheid en verantwoordelikheid teenoor versekerdes.


Wat moet boere verseker – en hoekom?

Pretorius maan teen selektiewe versekering. Volgens hom is dit belangrik dat boere nie net bates soos store en voertuie verseker nie, maar ook die lewende hawe en gewasse waarop hul inkomste en bestaansreg berus.

“Baie mense dink versekering is duur, maar dit verg net ’n bietjie perspektief. ’n Stoor met ’n waarde van R1 miljoen kan vir slegs R2 500 per jaar teen brand verseker word – dis net R208 per maand. Lewendehawe en wild teen R5 000 per jaar – R416 per maand. Dis goedkoper as wat meeste mense dink, veral in die lig van wat op die spel is.”

Daar is ook dekking vir stoet- en wildbedrywighede, insluitend sterftes weens siekte, diefstal, weer, brand en weerlig – met verskillende opsies vir omvattende of kernrisikodekking.

Die belangrikheid van aanspreeklikheidsdekking

Een van die grootste risiko’s waarvan boere dikwels nie genoeg kennis dra nie, is die wetlike aanspreeklikheid wat kan volg op die verspreiding van ’n plaasbrand.

“Die belangrikste en goedkoopste dekking wat ’n boer kan hê, is gemeenregtelike aanspreeklikheid. As ’n brand op jou plaas ontstaan en versprei na ’n buurman se grond of verder – en jy is nie behoorlik verseker nie – kan die gevolge finansieel verwoestend wees.”

Hierdie dekking by Santam sluit outomaties verantwoordelikheid vir jagters op jou grond in, asook ’n sogenaamde “vangnet” van R20 miljoen se dekking vir slegs R900 per jaar. Dit tree in sodra die onderliggende dekking uitgeput is. “Dis ’n ongelooflike beskerming teen groot en onverwagte eise. En dit gee boere gemoedsrus.”

Versekering bou en herbou

Pretorius sien versekering as méér as net ’n kontraktuele transaksie. Hy beskryf dit as ’n meganisme wat samelewings herbou ná rampspoed, huishoudings staande hou ná skade, en boere weer op die been help ná natuurrampe.

“Daar is niks in ’n land se ekonomie wat sonder versekering werk nie. Skepe vaar nie, vliegtuie vlieg nie, geboue verrys nie, en ondernemings hou nie vol nie sonder die beskerming wat versekering bied. In landbou beteken dit die verskil tussen herstel en ondergang ná ’n ramp.”

Die Santam-span by Graan SA se NAMPO Oesdag 2025. Foto: OFM

Santam se verbintenis met die gemeenskap

Santam se betrokkenheid strek egter verder as net polisse en premies. Die groep is ook betrokke as borg van die “Eye in the Sky”-verkeersverslae wat regstreekse verkeersinligting tydens NAMPO verskaf – ’n bydrae tot veiligheid en vloei op een van die landboukalender se besigste dae.

“Ons doen dit met trots, want ons glo aan diens en betrokkenheid – nie net aan verkope nie.”

“Boerdery is nie net ’n beroep nie, dis ’n roeping. En om daardie roeping vol te hou in ’n land soos ons s’n, moet jy voorbereid wees op die onvoorsiene. Versekering gee jou nie net beskerming nie – dit gee jou die vrymoedigheid om voort te gaan.”

Santam is 'n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer (FSP 3416), 'n gelisensieerde nie-lewensversekeraar en beheermaatskappy vir sy groepmaatskappye.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.