Agriculture
Landboudepartement: Beheer van bek-en-klouseer vorder goed─── 11:18 Thu, 29 May 2025

John Steenhuisen, minister van landbou, het aangekondig dat die staat se verskerpte maatreëls teen bek-en-klouseer (BEK) vrug begin dra.
Beheerde siektegebiede in Limpopo en die Oos-Kaap gaan binnekort opgehef word en ’n bestelling van R72 miljoen vir entstowwe is reeds geplaas.
Steenhuisen het die beheer van BEK vroeër vandeesmaand aan die adjunk-direkteur-generaal vir landbouproduksie en biosekuriteit toevertrou. Hierdie kantoor het saam met veeartsenydienste en die bedryf strategieë opgestel om die siekte effektief hok te slaan. Veral die biosekuriteit en rekordhouding by veilings sal binnekort met ’n riglyn aangespreek word.
Die aankoop van entstowwe by Onderstepoort Biologiese Produkte is reeds aan die gang en die volgende besending word teen middel Junie verwag. Die begroting vir 2025/26 staan op R1,2 miljard, met entstofkoste van R100 per dosis.
In Kouga en Kou-Kamma (Oos-Kaap) is 144 424 inentings toegedien sedert die afkondiging van die siektegebied in Julie. Aangesien geen nuwe gevalle sedert September opgeteken is nie, en serologiese monitering geen verborge besmettings toon nie, sal die beperkings binnekort opgehef word.
Limpopo se siektegebied, wat sedert 2022 in plek is, sal ook opgehef word ná 23 024 inentings in Vhembe. “Hierdie suksesse getuig van goeie samewerking en toegewyde beheermaatreëls,” het Steenhuisen gesê.
In KwaZulu-Natal (KZN) bly die siektegebied egter in plek weens tekens van aktiewe virus. ’n Abattoir in Vryheid is besig om goedkeuring te kry om diere onder beperking te slag. Op individuele plase word biosekuriteitsvlakke geëvalueer om gepaste beheer toe te pas.
In Mpumalanga is BEK op een plaas in April opgespoor, maar daar is geen verdere verspreiding aangeteken nie. ’n Tweede moniteringsronde is aan die gang.
In Gauteng is ’n voerkraal en aangrensende plaas in die Wes-Rand positief getoets. Epidemiologiese ondersoeke is aan die gang, ook ná bevestiging van BEK in kommunale vee in die Oos-Rand.
China het intussen ’n invoerverbod geplaas op gesplete hoefdiere en hul produkte weens die uitbrekings in KZN, Mpumalanga en Gauteng. Dié verbod geld egter slegs vir beesvleis, en die uitvoer van wol wat aan protokol voldoen, gaan voort.
Meld summier aan
Die departement maan vee-eienaars om nuwe diere vir ten minste 28 dae apart te hou, selfs al het hulle ’n gesondheidsertifikaat. Biosekuriteit is almal se verantwoordelikheid, het Steenhuisen beklemtoon. Geen gesplete hoefdiere mag uit ’n beperkte gebied verhandel word nie.
Onder die Dieresiekteswet (Wet 35 van 1984) moet eienaars alle redelike stappe doen om infeksie en verspreiding van siektes te voorkom. Verdagte simptome moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word en sulke diere mag glad nie verskuif word nie.
OFM Agri cg