Agriculture
Kommunikasie geskoei op vertroue, verhoudings─── 09:48 Tue, 03 Jun 2025

Die hoof uitvoerende beampte van AgriSA, Johann Kotzé, meen georganiseerde landbou se suksesvolle kommunikasie begin by sterk verhoudings en eerlike dialoog – nie by mediaplasings of openbare verklarings nie.
Kotzé het tydens NAMPO Oesdag aan ’n gesprek, gelei deur Landbouweekblad deelgeneem waar hy AgriSA se kommunikasiebenadering uiteengesit het. Die organisasie se federale struktuur beteken besluite word van onder na bo geneem – vanaf plaaslike boereverenigings tot by AgriSA se nasionale kantoor. “Ons het min beheer van bo af, en dit is goed so. Dit gaan oor vertroue en die vermoë om met boere en provinsiale leiers eerlik te kommunikeer.”
Hy beklemtoon AgriSA se rol is om boere se bekommernisse op grondvlak op te vang, te verwerk en na relevante owerhede te kanaliseer – en dan weer daardie inligting terug te bring na die boer. “As daai vertroue nie bestaan nie, help geen media-inisiatief of persverklaring nie.”
Wat sosiale media betref, sê Kotzé dit is tans een van hul grootste uitdagings. “Misinformasie en disinformasie skep verwarring en frustrasie. Boere lees soms in die koerant dinge wat ek nooit gesê het nie – en dit skep twyfel en wantroue.”
Hy waarsku dat sosiale media buite beheer is – vinniger as wat enige organisasie kan byhou. Kotzé verwys na internasionale gesprekke waarin maatskappye eerder hul teenwoordigheid beperk, maar doelgerig ingryp wanneer hul reputasie ernstig geskaad word. “Dan plant jy die waarheid neer – en stap weg.”
Volgens hom is die sleutel nie voortdurende teenwoordigheid op elke platform nie, maar eerder strategiese, geloofwaardige kommunikasie wat grondig posvat. “Jy moet die stem van rede wees – sonder vrees – en met minder intervensies, maar met groter impak.”
Kotzé sê uiteindelik is vertroue tussen strukture en die boer op plaasvlak die ruggraat van Agri SA se suksesvolle kommunikasie.
OFM Agri cg