Agriculture
Karan Beef BEK-uitbreking waarskynlik van subkliniese draers─── 10:03 Thu, 05 Jun 2025

Die bek-en-klouseer-uitbreking (BEK) by Karan Beef se voerkraal in Heidelberg is waarskynlik veroorsaak deur subkliniese draers van die virus – diere wat self geen simptome toon nie, maar die siekte in ’n baie kort tydperk kan oordra.
Volgens dr. Dirk Verwoerd, veearts by Karan Beef, is daar sowat 2% van die fasiliteit se 120 000 beeste wat tot dusver besmet is. Die diagnose is op 2 Junie 2025 deur laboratoriumtoetse bevestig, hoewel ’n voorkomende kwarantyn reeds einde Mei ingestel is.
“Ten spyte van strengbiosekuriteitsmaatreëls, soos kwarantyn van 28 dae en mondondersoeke, bly hierdie tipe verspreiding ’n uitdaging. Hy beklemtoon die uitbreking is tans beperk en geen beeste het gesterf nie.
“Die fasiliteit is sedert 30 Mei onder volledige kwarantyn met geen dierebeweging in of uit nie. Inenting sal begin sodra die entstof deur die staat beskikbaar gestel word. Ons werk tans saam met provinsiale en nasionale staatsveeartse aan die verdere proses.”
Hy verduidelik dat die pad vorentoe ’n 14-dae waarnemingstydperk behels waarin geen kliniese tekens getoon mag word nie, gevolg deur ’n stapsgewyse, beheerde uitslagproses. “Daar is geen beplanning vir massaslagting nie. Die geaffekteerde diere is nie ernstig siek nie, en die vleis is volkome veilig vir verbruik. Die siekte raak slegs herkouers.”
Karan Beef is een van Suid-Afrika se grootste voerkraaloperateurs en speel ’n sleutelrol in die rooivleiswaardeketting. Die uitbreking wek kommer in die bedryf, veral omdat dit plaasvind gedurende die huidige speenkalfseisoen.
OFM Agri cg