Agriculture
Vrystaat RPO jaarkongres: Veiligheid, BKS en samewerking onder loep─── ISABEL VAN TONDER 12:00 Mon, 09 Jun 2025

Tydens die onlangse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Vrystaat se jaarkongres wat in Bloemfontein aangebied is, is verskeie brandpunte soos veediefstal, siekte-uitbrekings en samewerking in georganiseerde strukture bespreek.
Adv. Hannes du Preez, een van die sprekers, het die rol van die polisie in die bekamping van veediefstal uitgelig.
Veediefstal is ’n groot bedreiging en rolspelers het vee-eienaars aangemoedig om betrokke te raak. In terme van wetstoepassing is die Vrystaat in vyf distrikte verdeel met 111 polisiekantore; daar is slegs elf veediefstaleenhede.
Du Preez noem heelwat gesteelde vee word na veilings gevat om daar te verkoop. Veilings is soms ’n ideale afsetgebied, want papierwerk is nie altyd in orde nie.
Soms moet drastiese besluite geneem word rondom vee omdat die nodige identifikasie nie in plek is nie. Brandmerke moet in plek wees en behoorlik geregistreer wees.
Hy sê die polisie wil graag meer betrokke wees, maar hulle moet ook gehelp met hul pogings hierin.
Hou veeregister op datum
Verder is grensdiefstal ’n groot kwessie omdat diere dikwels op die grens gebrandmerk word. Veediefstalinligtingsentrums word oral gestig om behoorlike inligting deur te stuur. Operasies moet inligtinggedrewe wees met gefokusde patrollies.
Een van die groot faktore wat kan bydra tot voorkoming, is om vee gereeld te tel en ’n veeregister op datum te hou. Du Preez noem verder hofsake dikwels onnodig bemoeilik word omdat basiese voorsorg nie in plek is nie.
Hy het ook ’n beroep op boere gedoen om getrou maandelikse landelike beveiligingsvergaderings by te woon en bewus te wees van gebeure om jou. “Die polisie en boere het mekaar nodig om die toenemende tendense in veediefstal behoorlik vas te vat en te beheer.”
Op sy beurt het Nico Buys, Vrystaat RPO-voorsitter, gesê dat die uitbreking van bek-en-klouseer rampspoedige gevolge vir die mark kan inhou. Daar sal toenemende druk op markte en pryse wees en produsente sal ongelukkig die gevolge daarvan dra.
Hy’t verder laat weet insette deur boere word waardeer en die RPO is altyd bereid om na enige voorstelle te luister. Lae vleispryse as gevolg van oorvoorsiening het druk veroorsaak en die RPO het nie stilgesit nie, hulle het produsente ondersteun en druk toegepas om markte oop te hou.
Hulle het ook saamgewerk met ander bedryfsorganisasies om planne te maak.
Een van die uitdagings van die RPO in die Vrystaat is dat die organisasie afhanklik is van vrywillige bydraes. ’n Beroep word gedoen op boereverenigings om die RPO te nooi om hul byeenkomste by te woon om inligting deur te gee oor die organisasie en die gebruik van fondse.
Buys het elke lid van die Vrystaat RPO, die personeel en bestuur bedank en gevra dat elkeen daarin sal poog om die rooivleisbedryf te beskerm en te bevorder.
Tydens die jaarlikse verkiesing is Nico Buys as voorsitter en prof. Andries Raath as visevoorsitter herverkies.
OFM Agri mvh