On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Ligte in die nag: Waarna soek hommeltuie oor plase?

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 12 Jun 2025

Ligte in die nag: Waarna soek hommeltuie oor plase? | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Landbougemeenskappe kla toenemend oor hommeltuie wat dikwels in die nag oor hul eiendomme waargeneem word. Daar word gevra: “Wat doen hierdie tuie en wie is in beheer daarvan?”

OFM Agri het by prof. Andries Raath, vise-voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Vrystaat gaan aanklop om te hoor wat hierdie organisasie rondom die verskynsel kon uitvind.

Raath is baie bekommerd oor die hommeltuie wat toenemend oor plase vlieg, veral in die nag. Word dit gebruik om data in te samel, indien wel, waarvan en deur wie? Die hommeltuie word veral in die Noord-Oos Vrystaat en Noord-Kaap opgemerk.

Buiten die voordele en werkverrigting wat hommeltuie vir landbou kan beteken ten opsigte van tel van vee, ondersoek van drade, oesbespuitings en veiligheid, kan dit egter ook vir kwaad aangewend word. In die hand van georganiseerde misdaad kan dit aangewend word vir data-insameling.

Raath meen algemene bewustheid moet geskep word en hy versoek boere om hierdie tipe aktiwiteit aan te meld. Tans word daar geen aktiewe misdaad aan hierdie hommeltuie in genoemde gebiede verbind nie maar daar is ’n ongemaklikheid oor die teenwoordigheid daarvan en die feit dat dit veral in die nag bedrywig is.

Onwettige gebruik daarvan is nie slegs ’n oortreding van die Burgerlugvaartwette nie, maar die insameling van data is ’n skending van privaatheid en ’n groot gevaar vir landelike veiligheid ten opsigte van plaasaanvalle en veediefstal. Daar is ’n protokol om te volg ten opsigte van die gebruik daarvan en veral ook as dit in ongemagtigde areas gevlieg word.

Georganiseerde misdaad maak van tegnologie gebruik. Raath versoek dat enige ongemagtigde aktiwiteit van hommeltuie by landelike veiligheidskoördineerders gerapporteer moet word en dat daar behoorlik rekord van gehou moet word.

Verdwyn wanneer persone uit hul huise kom

Volgens ’n landelike veiligheidskoördineerder, is hommeltuie vanaf einde April baie aktief, veral in die nag. Dit word veral opgemerk in die Bultfontein, Hoopstad en Bothaville area. Gevalle is aangeteken waar die hommeltuie so laag vlieg dat hulle ligte snags in plaashuise inskyn. Hierdie hommeltuie beskik oor termiese beeldvorming eienskappe en verdwyn wanneer persone uit hul huise kom om ondersoek in te stel.  

Verskeie navrae is deur veiligheidskoördineerders aan Burgerlugvaart, die polisie en ander privaat instansies gerig, maar daar is onsekerheid oor die herkoms en doel van hierdie vlugte. ’n Beroep word gedoen dat landelike veiligheidskoördineerders te alle tye ingelig moet word van hommeltuig aktiwiteite sodat daar ’n opgedateerde rekord daarvan opgestel kan word.

OFM Agri cg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.