On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente gewaarsku teen graansindikaat wat ook in Sentraal SA bedrywig is

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 18 Jun 2025

Produsente gewaarsku teen graansindikaat wat ook in Sentraal SA bedrywig is | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Produsente word gewaarsku teen ’n graansindikaat wat blykbaar in die Hoopstad en aangrensende Bultfonteinarea in die Vrystaat bedrywig is.

Jurg Kruger van South African Polygraph and Investigation Services (SAPIS) verduidelik mielieoeste wat pas gestroop is, word van produsente gesteel deur swendelaars wat hul voordoen as ‘graanmakelaars’. 

Dié wat reël vir die afhaal, vervoer en aflewering van hierdie oeste en die vragmotors wat opdaag se papierwerk blyk als in orde. Die mielies word dan opgelaai, maar die vrag verdwyn.  

SAPIS Agri kon egter daarin slaag om die besending mielies op te spoor voordat dit herverkoop is. Kruger vertel sedert September verlede jaar was daar al vyf gevalle van hierdie misdaad. 

In een geval het die vragmotor mielies gelaai in Hoopstaddistrik en is uiteindelik vasgetrek in Soshanguve. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem.

Onlangse gevalle se vragte het so ver as Delmas, Mpumalanga getrek waar dit bestem was om by Afgri afgelewer te word. Die vrag sou afgelewer word op ’n bestaande lidnommer en naam waarná betaling daarvan sou geskied. Die doel met die aflewering van die vragte is om dadelik betaling daarvoor te verkry.

Mielielande word snags betree

Daar was ook gevalle waar boere stroop met die doel om die volgende oggend die oes te gaan oplaai, maar deur die nag word die oes gebuit, volgens Kruger tot 35 t op ’n keer. Teen sowat R4 900 per t kan boere aansienlik skade ly.

Kruger maan verder dat plaaswerkers deur die sindikaat omgekoop word om inligting in te win van hoeveelhede mielielande en planne om te stroop. Daar is ’n ‘organiseerder’ in plek wat inligting deurgee aan die ‘makelaar’ en daar is ook persone op die plaas self wat betrokke is by hierdie diefstal.

Hy sê graan word nie noodwendig in die nag opgepas nie en dis dan wanneer die sindikaat se vragmotors die mielielande en plase betree om dit op te laai. Die sindikaat is veral bedrywig in Gauteng, Mpumulanga en Noordwes.

‘Neem foto’s van alles’

Produsente word gevra om enige ongerymdhede dadelik na hul plaaslike veiligheidsverteenwoordiger te verwys wat dit dan kan opvolg met SAPIS. 

Veiligheidsmaatreëls wat gevolg kan word, sluit in:

  • Wanneer graan gelaai word, maak seker die registrasie van die vragmotor stem ooreen met die lisensieskyfie; neem foto’s daarvan.
  • Indien daar ’n sleepwa is, moet dieselfde prosedure ook daarmee gevolg word. Verifieer die die bestuurder se ID en bestuurslisensie aangesien daar al gevalle opgeteken was waar die ID vervals was.  
  • Neem foto’s van alles, ook van die bestuurder en alle insittendes.  
  • Verifieer ook die graanmakelaar en alle rekords moet bewaar word vir toekomstige verwysing.

Kruger ervaar hierdie tipe misdaad vermeerder daagliks en kan slegs beheer en gestop word indien boere seker maak dat hulle met erkende graanhandelaars werk, die nodige voorsorg in plek het en oplet na enige ongemagtigde bedrywighede.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.