Agriculture
Landbousakevertroue daal effens in tweede kwartaal, maar sektor bly positief─── 16:18 Tue, 17 Jun 2025

Die Agbiz/IDC Landbousakevertroue-indeks het in die tweede kwartaal van 2025 met vyf punte gedaal na 65, ná ’n merkbare styging vroeër vanjaar.
Volgens die jongste syfers, wat gedurende die tweede week van Junie samgestel is, meld landboubesighede onsekerheid oor wêreldhandel, geopolitieke spanning en aanhoudende dieresiekte-uitbrekings as sleutelfaktore wat hul optimisme demp.
Wandile Sihlobo, Agbiz-hoofekonoom, meen egter die indeksvlak bly bó die neutrale 50-puntvlak, wat beteken dat besighede steeds oorwegend positief is oor die huidige sakeklimaat. “Goeie somerreën en verbeterings by hawens wat uitvoere vergemaklik het, dra daartoe by.”
Dalende sentiment in rooivleisbedryf
Van die tien subindekse het ses in die tweede kwartaal gedaal. Omsetvertroue het met vyf punte geval na 55, veral weens dalende sentiment in die rooivleisbedryf.
Netto bedryfsinkomste het eweneens met vyf punte tot 65 gedaal. Die uitvoerstemming het met 40 punte gesak na 60, ondanks sterk uitvoersyfers in die eerste kwartaal.
Die algemene ekonomiese toestande-indeks het met 15 punte afgeneem na 50, wat kommer oor plaaslike en wêreldwye groei weerspieël. Die markaandeelindeks het met vyf punte tot 65 gedaal.
Drie subindekse het onveranderd gebly: werkskepping (55), kapitaalinvestering (75) en algemene landboutoestande (80). Die laasgenoemde weerspieël die positiewe impak van La Niña-reën op gewasproduksie.
Twee indekskomponente word anders geïnterpreteer: ’n styging in finansieringskoste dui op spanning. Hierdie indeks het in Q2 onverwags met 10 punte tot 85 gestyg, ondanks dalende rentekoerse.
Die wanbetalingsvoorsiening het op 50 gebly – ’n aanduiding van volgehoue finansiële druk in sekere subsektore, veral veeboerdery.
Markdiversifikasie
Volgens Sihlobo dui die uitslae op ’n ongelyke herstel met sektore wat steeds onder dieresiektes gebuk gaan. Hy beklemtoon die belang van markdiversifikasie, veral na lande soos China, Indië, Saoedi-Arabië en Egipte, sonder om bestaande marktoegang in onder meer die EU, VK en Afrika in gevaar te stel.
“’n Samewerkende poging tussen regering en besigheid is noodsaaklik om biosekuriteitsuitdagings aan te spreek en sleutelnetwerkdienste, munisipale bestuur en implementering van die landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan te verbeter.”
OFM Agri mvh