Agriculture
Sampioenprojek herinner seuns dat hulle bó omstandighede kan uitstyg─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 23 Jun 2025

Die Jimmie Roos-vaardigheidskool vir seuns net buite Dewetsdorp neem die leiding met ’n innoverende sampioenprojek wat deur die kliniese sielkundige van die skool, Stéfan Burger, begin is.
Hy vertel dat hy op ’n daaglikse basis die seuns daaraan herinner dat sampioene groei en presteer in die donker, sonder liefde en ondersteuning. Só ook is hul lewens en kan hulle bó moeilike omstandighede uitstyg en steeds presteer.
’n Ander positiewe gevolg van hierdie projek was dat die seuns ’n groter bewustheid gekry het van die natuur en die wonder daarvan deurdat hulle deesdae vir hom klein voëltjies, slangetjies en skerpioene kantoor toe aandra of hulp vra met die versorging daarvan. Dit is in skerp teenstelling met hoe dit was.
Die doelstelling van die projek is om die seuns te bemagtig met nuwe vaardighede wat ná skool aangewend kan word vir ’n loopbaan en inkomste.
Burger vertel hy het in 2022 betrokke geraak by sampioenboerdery deur sy eie belangstelling in die groei daarvan as tuisprojek. Verlede jaar het die Jimmie Roos-leerders, in samewerking met die Hoggsback Mushroom School en die Genetika-afdeling van die Universiteit van die Vrystaat, geleer om self sampioene te kweek.
Oestersampioene deur leerders van Jimmie Roos skool gekweek. Foto: Stefan Burger
Die skool het heelwat mieliereste beskikbaar en dit is dan ook die ideale groeimedium vir hierdie sampioene. Nadat Burger die Hoggsbackfees verlede jaar bygewoon het, het die skool ook goeie ondersteuning gekry om die projek ’n hupstoot te gee met die regte emmertjies, watte en mycelium (sampioenspore).
Die seuns word geleer om die hele projek self te doen en hulle vertel baie entoesiasties wat die presiese stappe is wat gevolg moet word in die boerdery.
Die proses word egter vertraag deurdat die mieliereste wat in sakke verpak is, tans agter 4 000 lusernbale gepak is. Die sampioene groei op hawerstrooi, koringstrooi of mieliereste. Skenkings daarvan sal baie waardeer word.
Die projek is tans in ’n eksperimentele fase maar daar word hard gewerk dat dit uiteindelik ’n lonende projek vir die skool kan wees.