Agriculture
Bek-en-klouseer pers vleiswaardeketting al verder─── 17:04 Wed, 18 Jun 2025

Roelie van Reenen, hoof van voorsiening by die Beefmaster Groep, waarsku dat die bek-en-klouseer-krisis die hele rooivleiswaardeketting bedreig, van primêre produsente tot abattoirs en voerkrale.
In ’n onderhoud met OFM Agri het hy gesê die siekte “is besig om verder te versprei” en dat dit veral deur mense versprei word – iets wat ernstige uitdagings vir die hele bedryf inhou.
“Die geleenthede vir ons om beeste te koop in die waardeketting word weer baie minder. En ons weet nie waarheen oral het verspreiding wel plaasgevind nie. Die probleem wat dit vir die primêre produsent skep, is dat sy markte al hoe kleiner en minder raak.”
Beleggings onseker
Hy wys daarop dat belegging in die bedryf onseker raak.
“Ons weet nie presies of ons moet aangaan met die belegging op hierdie stadium nie, want jou kanse dat jy dit gaan verloor is so groot. Definitief baie, baie bekommernis in ons bedryf.”
Nuwe regulasies: ’n stap, maar nie genoeg nie
Met verwysing na nuwe regulasies wat vanaf Vrydag (20/6) in werking tree, sê Van Reenen dis wel “’n stap in die regte rigting,” maar waarsku dat dit nie genoeg is nie.
“As almal van ons nou besluit ons ry vinniger as die spoedgrens vandag, dan is daar nie genoeg mannekrag om die ding te keer nie. So … ons as ’n bedryf gaan moet saamwerk.”
Hy sê biosekuriteit moet voor in die ry wees. “Biosekuriteit begin by die plaashek. Dit begin by elke ieder en elk vanaf die primêre produsent regdeur die hele waardeketting.”
LEES OOK: Beef players devastated by latest FMD outbreak
Van Reenen kritiseer ook sekere huidige praktyke: “Ek verstaan nie mooi hoekom skuif jy ’n dier reeds na ander diere toe waar diere bymekaar kom en dan doen jy inspeksies nie. “’n Dier wat geskuif word, moet seker gemaak word … dat hy veilig, skoon en gesond is waar hy steeds op die plaas is voordat hy in aanraking kom met ander diere.”
Die kopskuif begin egter op voedselvlak, meen hy. “Dis baie maklik om vir jouself en jou eie kop te redeneer dat die ding is ver van my af … maar die realiteit is, die virus word aangery na jou toe.”
Hy waarsku dat indien daar nie op bestaande strukture gebou word nie, die bedryf “heel voor moet begin – en dit gaan ongelukkig baie duurder wees.”
Bedryf se reaksie begin vorm aanneem
Intussen is die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se Operasionele Sentrum op die been gebring en het Fase 1 van sy gekoördineerde reaksie op die toenemende bek-en-klouseer (BKS)-uitbreking reeds begin. Dit sluit die formele aanstelling van die BKS-werkgroep in, asook die inisiëring van kritieke aksies om die uitbreking te bestuur, marktoegang te beskerm en die rooivleisbedryf se langtermyn-veerkragtigheid te versterk.
“Die BKS-werkgroep is formeel aangestel en sluit toonaangewende kundiges in veeartsenykunde, diagnostiek, siektebeheer en bedryfsverteenwoordigers in,” lui ’n verklaring van RMIS. Die groep het die mandaat om ’n gestruktureerde, tydsgebonde reaksie te lei wat fokus op inenting, siektebeheer en die ontwikkeling van volhoubare biosekuriteitstelsels.
Die formele reaksieplan is opgestel deur prof. Dietmar Holm, professor en adjunkdekaan aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde. “Hy het onafhanklik van die werkgroep se interne beraadslagings gewerk om te verseker dat die finale dokument objektief, duidelik en onbevooroordeeld bly, terwyl dit steeds die groep se gedeelde strategiese rigting weerspieël,” lui die verklaring.
Lede van die BKS-werkgroep:
- Dr. Baty Dungu – Veeartsenykundige en entstofspesialis
- Prof. Francois Maree – Sentrum vir Virale Soönose, Dept. Mediese Virologie, Universiteit van Pretoria
- Dr. Gerhard Neethling – Hoofbestuurder, Rooivleis-abattoirvereniging (RMAA)
- Dr. Livio Heath – Navorsingspanbestuurder: Entstofproduksie, LNR-OVI
- Dr. Mark Chimes – Programbestuurder: Dieregesondheid en -welsyn, Melk SA
- Dr. Peter Evans – HUB, SAPPO
- Dr. Kabols le Riche – RMIS-raadsdirekteur: Diere- en Openbare Gesondheid
- Dr. Danie Odendaal – HUB, Veeartsnetwerk
- Dr. Dirk Verwoerd – Voerkraalveearts, Karan Beef
- Dr. Shaun Morris – Raadgewende voerkraalveearts
- Dr. Stuart Varrie – Bedryfveearts: Wol
- Dr. Hendrik Hansen – Privaatveearts: FMD Forum
- Dr. Adriaan Olivier – Bedryfsveearts: Volstruis
- Dr. Anthony Davis – Privaatveearts: Suiwel
- Dr. Phillip Oosthuizen – Bedryfshoof, RMIS
- Dr. Frikkie Mare – HUB, RPO
OFM Agri mvh