Agriculture
Nuwe Wet op Planteteelregte tree in werking─── 12:19 Mon, 23 Jun 2025

’n Opgedateerde wet skep ’n raamwerk vir die toekenning van teelregte vir plante – insluitend die vereistes vir goedkeuring, die omvang van beskerming, die uitreiking van lisensies, en verwante aangeleenthede.
Die Departement van Landbou het aangekondig dat die nuwe Wet op Planteteelregte, 2018 (Wet 12 van 2018) en die gepaardgaande regulasies reeds op 1 Junie 2025 in werking getree het.
Pres. Cyril Ramaphosa het die proklamasie onderteken ná die goedkeuring van die regulasies deur die minister van landbou, John Steenhuisen.
Hierdie nuwe wet vervang die ou Wet op Planteteelregte, 1976 (Wet 15 van 1976), en is gepubliseer in Staatskoerant Nr. 52184 van 6 Junie 2025, met die regulasies wat op 13 Junie in Staatskoerant Nr. 52850 verskyn het.
Belangrike wysigings in die nuwe wet sluit in:
- Vereenvoudigde administratiewe prosesse;
- Uitbreiding van beskerming na alle plantgenusse en -spesies;
- Gewysigde beskermingstydperke – tot 30 jaar vir vrugtebome, wingerde, suikerriet en aartappels, en 25 jaar vir alle ander gewasse;
- Duidelike definisies van boere, gewasse en hoeveelhede met betrekking tot herbewaar van saad; en
- Die stigting van ’n advieskomitee met verteenwoordiging uit ’n wye spektrum belanghebbendes, insluitend telers, boere en kenners in intellektuele eiendomsreg.
Volgens die departement sal die wet bydra tot die regering se doelwitte om innovasie in planteteelt en landbou aan te moedig. Die beskerming van nuwe plantvariëteite is van kardinale belang vir voedselsekerheid, verhoogde landbouproduktiwiteit en die ontwikkeling van landelike gebiede. Verder sal die wet beleggings in planteteelt bevorder, werksgeleenthede skep en ekonomiese groei ondersteun.
Die Wet op Planteteelregte, 2018, en sy regulasies is beskikbaar op die departement se webwerf by: www.nda.gov.za.
OFM Agri cg