Agriculture
Brandseisoen: Is jy genoegsaam voorbereid?─── 10:16 Tue, 24 Jun 2025

Boere en grondeienaars word gemaan om seker te maak hulle is voorbereid vir die droeër wintermaande waar brande dikwels voorkom.
Eric Stoch, voorsitter van die Noordwes Sambreel-brandbeskermingsvereniging meen een van die belangrikste punte om nou dop te hou, is die toestand van grondpaaie en toegangspaaie ná die laat en nat reënseisoen. “Daar lê geweldig baie water nog in die veld. Ons het al gesien hoe mense en trokke vassit in die modder. Terwyl jy ry het jy nie ’n probleem nie, maar sodra jy stilhou en weer wil beweeg, kom jy nie daar uit nie.”
Hy sê boere moet hul eie terrein goed ken en aanpas waar nodig. “Ons moet probeer om so gou as moontlik voorbrande in plek te kry. Die mense kon nie betyds in die veld inkom om normaal te sny of te skraap nie – dis ’n groot probleem.”
Stoch maan verder dat almal – van boere tot inwoners van kleinhoewes en dorpsgebiede – hul onmiddellike omgewings moet skoonmaak van brandbare materiaal soos blare en droë gras. “As daar ’n vonk daar land, is dit ’n plek waar brande baie maklik kan ontstaan.”
Hy beklemtoon ook die wetlike verantwoordelikheid van grondeienaars. “Jy is verplig om jou personeel op te lei, beskermende klere en toerusting aan te hou, en brande op jou grond te keer sodat dit nie na ander versprei nie.”
Gemeenskapsamewerking is sleutel
Stoch sê brandbeskerming berus sterk op gemeenskapsinisiatief en vrywillige bystand. “Nege-en-negentig persent van ons brandbestryders in die Noordwes-provinsie is vrywilligers wat dit op eie koste en eie risiko doen. Baie keer is hulle nie eens by die huis nie – hulle is besig in die land, of op pad terug van die dorp, en ry reguit na die brand toe.”
Hy vertel van gemeenskapslede wat sorg vir ondersteuning aan brandbestryders. “Wanneer daar ’n brand is, is dit belangrik om te sorg dat die mense water, kos, yswater en selfs energiestafies kry.”
Stoch moedig die publiek aan om inligting oor brande te deel en aan te sluit by plaaslike brandverenigings. “Ons het 20 verenigings in Noordwes, elk met hul eie bevelvoerders. Mense kan registreer om op WhatsApp-groepe in te skakel en waarskuwings te versprei – of dit nou ’n oranje of rooi brandgevaar-indeks dag is.”
Wat om te doen as jy ’n brand sien
Stoch sê die belangrikste eerste stap is om die plaaslike brandweerdienstete kontak. Daarna kan die plaaslike brandvereniging en provinsialekantoor ook in kennis gestel word. “Ons wil eerder ’n brand blus terwyl hy nog vreeslik klein is – dan groet jy mekaar na tien minute en gaan huis toe. Maar wag jy vyftien minute, dan het jy ’n groot krisis op hande.”
Hy stel ook voor dat mense ’n “location pin” stuur via WhatsApp, tesame met ’n foto en kort beskrywing van die gevaar. “Sê vir ons of daar rook oor die pad trek, of vee en mense in gevaar is – dan stuur ons verkeersbeamptes of selfs die helikopter vanuit Potchefstroom.”
Kontakbesonderhede
Stoch moedig alle inwoners aan om die noodnommers op hul fone te stoor: 071077 6653 (kantoor).
Belangstellendes kan ook ’n WhatsApp stuur met hul naam om op die inligtingsblad gevoeg te word. “Brandbeskerming is nie net ’n boer se verantwoordelikheid nie – dit is ’n gemeenskapsaak.”
OFM Agri cg