On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Herlewingslandbou: Wins begin onder die grond

───   ISABEL VAN TONDER 15:59 Wed, 25 Jun 2025

Herlewingslandbou: Wins begin onder die grond | News Article
Foto: Hanzyl Bonsmaras/Facebook

Die toekoms van suksesvolle veeboerdery lê nie net bo-op die grond nie, maar diep daaronder – in die lewe wat die blote oog nie kan sien nie. Só meen Gerrit van Zyl van die Hanzyl Bonsmara-stoetery buite Dewetsdorp.

Hy het gepraat by die “Winds of Change”-inligtingsdag, in samewerking met Boran SA, oor hoe regeneratiewe landboupraktyke boere kan help om meer bekostigbare vleis te produseer.

Die faktore wat wins dryf in beesboerdery, is veelading, vrugbaarheid en lae onderhoud-genetika van jou diere. Plant en grondgesondheid dryf wins en die groot geheim lê onder die grond.  

Van Zyl meen hoewel genetika en bestuurspraktyke bó die grond belangrik is, lê die ware waarde van die stelsel onder die oppervlak. “Ek dink vir baie jare het ons nie besef dat die geheim onder die grond lê nie.”

Herlewingslandbou is direk verbind daaraan om grondgesondheid te verbeter, biodiversiteit te verhoog en ook ekosisteem-funksies te verbeter.  Veerkragtigheid van die landbouproduksiestelsel lê daarin om nie net grond te bewaar nie, maar ook om dit te verbeter.

Volgens Van Zyl is boere se drang om die natuur te manipuleer, deel van die probleem: “Die mens wil mos manipuleer. Die mens wil sy eie ding gedoen hê ... hoe meer ons veld agteruit gegaan het, hoe meer moes die insette verhoog.”

Hy sê dekades se oorbenutting het die grond uitgeput: “Het dit ons 100 jaar gevat om hom om te myn en hom te vernietig, dan gaan dit ons dalk 200 jaar vat om hom weer te herstel.”


Waarom lê die geheim onder die grond? “Want dis waar die lewe is. Ons het altyd gedink die mense is lewe, maar hulle sê in een teelepel grond is daar meer lewe as mense op die aarde.”

Van Zyl meen die moderne mens het ’n perfekte stelsel probeer oorheers met chemikalieë: “Omdat ons bo die grond gemaak het wat ons wou met chemie, met kunsmis, met pesbestryders, met al hierdie goed, het ons die totale ekosisteem vernietig.”

Op die vraag wat herlewingslandbou vir hom beteken, antwoord Van Zyl: “Die begrip herlewingslandbou vir my, is om iets beter te maak. Dis om as ek vandag sit en ek kom tien jaar van nou af en ek kyk terug, dan moet ek sê ‘dit was goed’. Dit was beter.”

Hoewel bewaring belangrik is, sê hy: “Dit help nie ons bewaar net, dit is goed om te bewaar, maar dit is beter om te verbeter.”


Hy verwys na Gabe Brown, ’n bekende Amerikaanse boer: “Hy’t altyd vroeër jare opgestaan om te sê wat kan hy vandag doodmaak. Nou staan hy op en sê, ‘waar kan ek lewe wek’.”

Die voordele van vrylopende beeste is natuurlike kunsmis wat kosteloos versprei word; miskruiers word meer en daar is minder skadelike chemiese produkte wat in die grond gelaat word; natuurlike peulplante kom terug asook nuwe grasspesies. Weidingskwantiteit en kwaliteit verhoog en daar is ook ’n opmerklike drakragverhoging van die veld.

Van Zyl is oortuig daarvan dat herlewingslandbou ’n werkbare alternatief is vir ’n sukkelende veebedryf.  Hy glo dat jy eers jou boerdery begin geniet as dit winsgewend is.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.