Agriculture
Noord-Kaap het wynmaakpotensiaal van wêreldgehalte─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 30 Jun 2025

Die Noord-Kaap beskik oor ideale natuurlike omstandighede vir wynproduksie. Só meen Hennie Huskisson, hoofwynmaker van GWK se Landzicht-wynkelder.
In ’n onderhoud met OFM Agri beklemtoon hy die streek se unieke ligging, klimaat en waterbronne as belangrike faktore.
“In die Noord-Kaap sit ons met ’n baie groot area al langs die Oranjerivier tot waar dit met die Vaalrivier bymekaarkom, ’n lekker breë strook van genoeg water. En ek dink ons klimaat laat ons toe om goeie kwaliteit wyn te maak,” sê Huskisson.
Klimaat werk in wynboere se guns
Hy wys daarop dat daar steeds ’n wanpersepsie bestaan dat die streek deel is van ’n somerreënvalgebied.
“Maar as ons gaan kyk wanneer ons reën eintlik kry, is dit so hier van einde Februarie af. En dan is meeste van ons druiwe al gereed om geoes te word,” sê hy.
Hoewel die streek bekend is vir hoë volumes druiwe, lê die uitdaging daarin om steeds gehalte te lewer. “Dis bewys deur die kopers wat tevrede is met die kwaliteit wat ons doen.”
Soetwyne blink uit in warm klimaat
Soetwyne is veral ’n sterkpunt in die streek, danksy die warm klimaat en vroeë suikerontwikkeling in die druiwe.
“Wanneer ons dan hierdie wyn maak en op die stadium wat ons ons alkohol bygooi wat die gissingsproses stop … dan sit ons met ’n natuurlike soetwyn wat die natuurlike geurkomponente van die wyne uitbring – en dit kan jy nie in enige streek doen nie,” verduidelik Huskisson.
Wynmaker waak oor wingerderfenis
Huskisson het ook ’n spesiale verbintenis met ’n wingerdstok wat reeds in 1771 in Kaapstad geplant is. Hy is verantwoordelik vir die snoei en versorging van “Old Lady” en reis gereeld Kaap toe om die stok te besoek – die oudste wingerdstok in die Suidelike Halfrond.
Hy vervaardig wyn van dié stok onder die etiket “1771”, wat slegs op veilings beskikbaar is. “Old Lady” het selfs ’n eie Facebook-bladsy en het ’n brief van die oorlede Koningin Elizabeth ontvang, waarin sy haar seën daaroor uitgespreek het.
Huskisson glo dis ’n wonderwerk dat die stok so lank oorleef het, veral nadat daar in die sestigerjare sprake was dat die terrein gesloop sou word. Die stok het ook al talle siektes oorleef.
Die "Old Lady"-wingerdstok in Kaapstad. Foto verskaf
Toekoms lyk rooskleurig vir Noord-Kaapse wynbedryf
Huskisson is optimisties oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, veral in die Noord-Kaap. “Glo dit of nie … op hierdie stadium is daar ’n tekort aan wyn in Suid-Afrika.”
Hy meen produsente wat nou wingerde aanplant, sal goeie sukses behaal, mits hulle strategies saamwerk met hul wynkelders.
“Dis belangrik om ’n goeie verhouding met jou kelder te hê … want dis ’n langtermynprojek wat jy aanpak.”
OFM Agri cg